Rugbyblog: Wat is die verskil tussen wen en verloor?

Foto: Blue Bulls Facebook

ʼn Naweek van die onverwagse en die bykans onmoontlike het hom voor ons oë afgespeel.

Die Reds wat met gemak die voorlopers en verdedigende kampioen kafdraf en die sewemalige wenners van die toernooi, die Crusaders, was met lustelose spel deur die Force afgeslag.

Ons het verwag dat die Blues die Hurricanes sal oorrompel want die Hurricanes se sterkpunt is hulle teenaanvalle wat jou maklik oorhoops kan laat hardloop en vinnig punte teen jou laat opstapel. Die Blues het gesorg dat balbesit gehou word en die een kraantjie van teenaanvalle is onmiddellik toegedraai.

Kenmerkend van sommige spanne is die fanatiese verdediging wat teenstanders etlike meter terugduik en sodoende die spel agter die voordeellyn stuit. Dit raak nou ʼn feit dat wedstryde voor die tyd in die kleedkamer gewen en verloor word. Die sielkundige gereedheid vir die stryd bepaal die wenners.

Buiten die laagste spanne op die punteleer (Kings uitgesluit) is al die ander spanne binne 5% van mekaar af wat fisieke voorbereiding, krag, spoed en vaardighede aanbetref.

Wat is die verskil tussen wen en veloor?

Die ingesteldheid voor die tyd: die spanne kan nie een oomblik verslap en dink dit gaan ʼn maklike wedstryd wees nie. Die oomblik as dít ʼn span se benadering is, is die stryd verlore.

Dit bring ons by die Suid-Afrikaanse tweestryde. Die Stormers was met hulle rug teen die muur en indien hulle teen die Sharks sou verloor, sou hulle baie moeilik kon herstel om nog saam te praat as die uitspeelwedstryde naderkom. Dit was ʼn harde meedoënlose wedstryd. Skouspelagtig was dit beslis nie, maar ek dink die Stormers ondersteuners sal tevrede voel met die wen. Die Stormers se skrum was beslis die beter een en die veelgeroemde pak van die Sharks het maar middelmatig teen die Stormers vertoon. Soos telkens in vorige wedstryde het die Stormers se verdediging beïndruk. Die Stormers het welverdiend met 22-15 gewen.

Toe breek die langverwagte stryd op vesting Loftus aan. Die Cheetahs was oppad om ʼn rekord sesde agtereenvolgende oorwinning te behaal en het vol selfvertroue opgeruk na Loftus waar GROOT spanne van die verlede met huiwering die arena betree het. Die wedstryd is voorafgegaan deur die 75ste bestaansjaarviering van die Noord-Transvaalse rugby-unie.

In April 1938 is die eerste wedstryd van Noord-Transvaal teen die Vrystaat gespeel. Heel gepas word die Cheetahs-wedstryd toe gebruik om die feesvieringe af te skop. Van vroegmiddag af het oudspelers in die mediasentrum bymekaargekom en geregistreer vir die geleentheid. Elkeen het ʼn spesiale Noord-Transvaal-trui ontvang wat later die aand tydens die optog op die veld gedra is.

Ou vriende het mekaar na baie jare die eerste keer weer gesien en as die naamplaatjies nie so prominent vertoon is nie, dink ek sou baie eertydse spanmaats mekaar nie herken het nie. Van die grotes was daar en dan diegene soos die uwe wat net-net gekwalifiseer het vir die voorreg om die Noord-Transvaal baadjie te kan dra.

Een van die grotes (nou klein en vervalle en sekerlik nie meer as 50 kg nie) was die 86-jarige Johnny Louwrens, vleuel, wat die eerste Curriebeker-eindstryd vir Noord-Transvaal gewen het toe hy die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd teen Province gedruk het.

Dan was daar die rugbyspeler van die eeu, Frik du Preez, wat nog steeds gewild is by oud en jonk. Hy moes soveel keer poseer vir foto’s dat ek gedink het hy sal ʼn sonbril moet begin dra.

Thys Louwrens, die mees suksesvolle kaptein in die geskiedenis van Noord-Transvaal wat in agt Curriebeker-eindstryde gespeel het. In sy 168 wedstryde vir die Ligbloues het hy 84 keer as kaptein op die veld uitgedraf.

Die optog op die veld het oomblikke van groot heimwee gebring want almal se sweet en seerkry en die vreugde van oorwinnings is daar behaal. Almal het gebou aan die tradisie en die handelsmerk wat die Bulls vandag is. Onwillekeurig het jy weer jonk en skeetvry op die veld gevoel! Daarna was dit tyd vir die groot wedstryd.

Die spelers het mekaar trompop geloop en geen genade is verwag of gegee nie. Die Cheetahs het eerste bloed geruik en was met halftyd 9-6 voor. Twee drieë deur die Bulle en een deur die Cheetahs het die wedstryd heen en weer laat swaai, maar uiteindelik het die akkurate skopskoen van Morné Steyn seker gemaak dat die Bulls met die nodige vier punte van die veld afstap.

ʼn Gepaste einde vir ʼn feestelike dag vir Noord-Transvaal wat nou as die Bulls die tradisie van voortreflikheid voortsit.

Groete tot volgende week

NS. Gelukwense aan Tuks wat die Varsitybeker oortuigend gewen het met die grootste nederlaag nog aan die Maties.

Polla Roux

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.