Rugbyspeler verdrink, 5 vermis ná see 21 gryp

Foto: NSRI

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het sy meegevoel betuig aan die Motherwell Rugbyklub nadat een van sy spelers verdrink het en vyf spanmaats vermis word nadat hulle Sondag deur ʼn sleurstroom die diepsee ingetrek is by Blouwaterbaai in Port Elizabeth.

“Ek het met die president van die Oostelike Provinsie-Kings se Rugbyunie en lede van die gemeenskap gepraat, dit is ‘n verskriklike tragedie,” het Saru se president, Oregan Hoskins gesê. ʼn Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Craig Lambinon, sê hulle is omstreeks 12:00 Sondagmiddag in kennis gestel dat 21 mense, waaronder rugbyspelers van die Motherwell Rugbyklub en lede van die publiek, in die moeilikheid geraak het by Blouwaterbaai. Lambinon sê 15 mense is uit die water gered en op die strand vir skok behandel. Hy sê lewensredders het tot 3 persone op ʼn slag uit die water getrek. Hy sê ʼn speler van die Motherwell Rugbyklub is egter op die toneel dood verklaar. Vyf spelers word steeds vermis. Lambinon sê drie reddingsbote, ‘n waterponie en ʼn helikopter is in die soektog gebruik. Die strand was vir die res van die dag gesluit en beraders het na die strand gekom om berading te gee. Die polisie se honde- en duikeenheid sal vandag die soektog na die vermiste mans, glo almal in hul vroeë 20’s, voortsit.

Intussen is die lyk van ʼn man gister deur polisieduikers uit die Sondagrivier gehaal nadat hy van ʼn ski-boot geval en vermoedelik verdrink het. Die NSRI het die oorledene geïdentifiseer as Lesley Vermaak (35). Volgens die NSRI het dié voorval gelyktydig plaasgevind met die tragedie by Blouwaterbaai. Intussen word ʼn 22-jarige man van Johannesburg steeds vermis nadat hy vermoedelik by ʼn strand in Oos-Londen verdrink het. Die man het glo saam met vriende geswem toe hy in die moeilikheid geraak en onder die water verdwyn het. Die soektog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.