Rugbysterre trek laer rondom ‘te groot’ jong speler

Alfie Pugsley geniet sy rugby vir sy o.12-span. Foto: Twitter.

Rugbylegendes soos Beast Mtawarira het laer getrek rondom ’n 11-jarige Walliese rugbyspeler wat op sosiale media geboelie is.

“Moenie bekommerd wees nie, Alfie, ek sal altyd jou grootste ondersteuner wees,” het Mark Pugsley die afgelope naweek op Twitter gesê nadat sy jong seun onder ’n aanlyn boelie deurgeloop het.

Volgens Pugsley moes hy vroeër ’n foto van Alfie (wat stut vir Oakdale RFC in Wallis speel) op Facebook verwyder nadat ’n persoon kommentaar gelewer het en gesê het dat die jong speler “te groot en ongesond” is om vir die o.12-span uit te draf.

“As mense maar net geweet het hoe hard hy aan sy fiksheid werk en hoe laag sy selfvertroue was,” het Pugsley voortgegaan.

Sedertdien het meer as 230 000 internetgebruikers die like-knoppie onderaan die inskrywing gedruk, terwyl amper 16 000 mense dit op hul blaaie gedeel het.

Dan het ’n rits rugbysterre ’n spesiale boodskap vir Alfie gereed gehad.

Louis Rees-Zammit (Walliese vleuel) het onder meer gesê dat hy gratis kaartjies vir hom beskikbaar het, terwyl Nigel Owens aangedui het dat hy bereid is om as skeidsregter in een van Alfie se wedstryde op te tree.

“Alfie, hou net aan om rugby te geniet. Lewer altyd jou beste, maar onthou om te glimlag terwyl jy dit doen,” het die gewilde voormalige internasionale skeidsregter gesê.

Suid-Afrika se Mtawarira het ook die jong Walliese knaap ondersteun.

“Ek het destyds dieselfde pad as jy gestap toe mense my oor my grootte geboelie en gewonder het of ek in die regte ouderdomsgroep speel. Hou jou kop omhoog; rugby is ’n spel vir almal om te geniet,” het die Wêreldbeker-wenner getwiet.

Dan het die Dragons-vyftiental onderneem dat Alfie saam met die span tydens een van hul tuiskragmetings op Rodney Parade sal uitdraf, terwyl sy jong spanmaats ’n erewag vir hulle sal staan.

Verder het Frankryk se nasionale rugbyspan en Nieu-Seeland se Israel Dagg en Jerome Kaino ook boodskappe gestuur.

Alfie … big love, mate. Keep on trucking,” het Engeland se Joe Marler geskryf, terwyl Wêreldrugby ook sy gewig agter die jong stut gegooi het.

“Rugby is ’n ongelooflike sport en al wat saak maak, is dat jy dit geniet. Maak nie saak waarheen jou rugbypad jou lei nie; geniet dit, werk hard en weet dat baie mense jou ondersteun,” het die internasionale rugbybeheerliggaam getwiet.

Volgens Pugsley is hy deur die rugbywêreld se ondersteuning uitgeboul.

“Wanneer ek normaalweg iets op Twitter laai, is ek gelukkig as drie mense daarop reageer. Ons is stomgeslaan deur almal se reaksie. Alfie werk ongelooflik hard om fikser en gesonder te word; volgens sy afrigter is daar geen keer aan hom tydens oefensessies nie,” het die trotse pa in ’n onderhoud met Wales Online gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

RS ·

Geniet jou sport my kind! Ek is 100% agter jou! Boelies moet sommer in die tronk gestop word.

anniekiewiet ·

Ek is nie mal oor rugby nie, maar sou jou wedstryde bywoon. Go for it! Applous aan elke een wat jou ondersteun.

VaalDonkie ·

Sport is dan nou juis wat ‘n oorgewig kind nodig het om gesonder te word. Ek verstaan darem nie party mense se mentaliteit of logika nie.

Cornel ·

My boy ,enjoy every moment ,don’t let the pathetic internet trolls bring you down. You will always find these pathetic ,low life’s hiding behind screens ,to weak to face a real man .You are a inspiration to millions of children al over the world .For you i have more than respect and i know we will see you in a national team very soon.

anniekiewiet ·

Dis nie van belang nie. Ander Afrikaanse mense wat wel hier lees, sien in hoe aaklig boelies is, veral ongeskikte snobistiese grootmense.

Chantel ·

Ek wens soms mense wil net hulle monde eerder toe hou, as jy niks goeds te sê het nie. WRAGTIG.
Ek haal my hoed vir hierdie seun af.

Windhond ·

Party mense het nie die mentaliteit nie , maar hulle bekke is dan vinniger as hulle verstand – ek het self deurgeloop op skool en het van O/15 – direk na 1 span , dit het my toegelaat om 4 jaar eerstespan te speel, hoop dieselfde gebeur vir die outjie

Harley Davidson ·

Hy is gelukkig in Suid Afrika sal sy gewig nie teen hom tel nie maar wel sy velkleur maar dit word ook in Suid-Afrika aanvaar deur diegene wat ongeag dit nog steeds die sport verafgot.

Patch ·

Om van rugby te hou, jou kind wat dit speel te ondersteun by elke wedstryd en jou gunsteling nasionale/internasionale span te ondersteun, beteken nie mens verafgod dit nie. Dit gaan oor die sport nie die velkleur nie.

nikkel ·

Eintlik het die nare opmerking die teenoorgestelde bereik.
Die outjie is nou ‘n ster.
Al wat eintlik saak maak is of hy kan byhou en bydra tot die span se werkverrigting.
Sy gewig is niemand se besigheid nie.

anniekiewiet ·

Ek wonder heeltyd oor hierdie irriterende afduimpie. Is die kind se gewig wel jou besigheid, meneer/me afduimpie?

Stofpoepertjie ·

Maar die mannetjie is duidelik oorgewig. Mag ons nie die waarheid praat meer nie? In New Zealand word skole rygby nie volgens ouderdom groepe gespeel nie, maar grootte en gewig. Dit maak seker dat n (ekstra) groot 12 jarige, nie n (piep) kleiner een beseer nie. Maak vir my heeltemal sin. Niemand word uitgelsuit nie.

Vlooitjie ·

Dit gaan oor die boelie gedrag wat daarmee saamgaan. En dis wat nie okay is nie.

Janine ·

Ek stem saam. My seun, wat baie klein vir sy ouderdom was, moes teen seuns groter as ek rugby speel. Dis NIE regverdig teenoor ander spelers nie. Punt.

Waarnemer ·

Alfie,keep your chin up,play and enjoy the game and just keep on giving your best,one day you will be playing fir your country.

Smurf ·

Daai jong knapie het meer durf en ruggraat as die ” opmerkers” . Mooi so jong man ! Dit is waaroor rugby gaan…..saamstaan !

Patch ·

Geniet jou rugby seun! Steur jou nie aan die vieslike boelies nie. Hulle is net jaloers op jou. Wonder wat sal hulle sê as die Walliese span jou nooi om met ‘n groot wedstryd saam met hulle op die veld te draf. Dan sal die boelies se monde gesnoer wees!

Janine ·

Almal wat so aangaan oor boelies; het julle sy grootte teenoor ander spelers gesien? Hoe de hel is dit regverdig teenoor ander kinders???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.