Rugbytoer-verkragting het glo nooit plaasgevind nie

ʼn Seun wat glo op ʼn skolerugbytoer “ontgroen” is, het nooit beweer dat hy seksueel aangerand is nie, het die Wes-Kaapse departement van onderwys Dinsdag gesê.

“Die seun het dit ten sterkste ontken. Ek kan maar net dink dat mense die afleiding gemaak het nadat hulle na toerfoto’s gekyk het,” het Paddy Attwell, woordvoerder vir die departement gesê. “Die foto’s het ʼn seksuele ondertoon gehad, maar daar was geen bewyse dat ʼn aanranding plaasgevind het nie.”

Attwell sê die pa het nie beweer dat sy seun verkrag of seksueel aangerand is nie, want daar was geen mediese bewyse om dit te staaf nie.

Luidens ʼn berig in Beeld op 10 Mei, het die seun se ma beweer hy is in Maart tydens ʼn rugbytoer by Velddrif aan die Weskus met ʼn besem en ʼn piesang seksueel aangerand nadat hulle teen ʼn plaaslike skool rugby gespeel het. Die ma het gesê hy het ʼn “please call me” van sy selfoon aan haar gestuur nadat die ouer seuns glo sy hare wou afskeer.

Die volgende aand, nadat hy gaan slaap het, is hy glo in sy bed aangeval en verkrag. Die aanvallers het glo ook sy wenkbroue afgeskeer, tandepasta in sy neus opgespuit en ʼn falliese voorwerp op sy voorkop geteken.

Verskeie berigte wat hierop gevolg het, het aangeneem dat die pa en sy seun dieselfde storie beweer, het Attwell gesê.
Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn saak in verband met die Edgemead Hoërskool-rugbytoer by die polisiestasie in Bothasig aanhangig gemaak is. “ʼn Senior staatsaanklaer het egter die saak van die hand gewys nadat hy die volledige saak deursoek het,” het Traut gesê.

Die departement het sy eie ondersoek van stapel gestuur om te bepaal of enige seksuele oortreding, vernedering of ontgroening plaasgevind het. “Die ondersoek het bepaal dat leerders wel aan ontgroening deelneem, en dit sluit in om nuwelinge se hare af te skeer en die drink van ʼn nie-alkoholiese brousel,” het Attwell gesê.

Sommige spanlede het alkohol gedrink ten spyte van ʼn waarskuwing deur hul breier.

Attwell het gesê spanlede het die seun op die aand van 17 Maart verneder en het foto’s hiervan geneem wat op sosiale media versprei is. Sewe leerlinge is vir sewe dae lank geskors ná ʼn dissiplinêre verhoor. Die departement het bepaal dat die skool die regte prosedure gevolg het.

“Die ondersoek kon nie enige bewyse vind dat die seun verkrag of seksueel aangerand is nie. Die seun en sy gesin ontken dat hulle dié bewering gemaak het,” het Attwell gesê. Die departement het ten spyte hiervan die leerders se gedrag as afstootlik beskryf. ʼn Waarskuwingsbrief oor ontgroening sal aan die hoof gestuur word. Die hoof sal hierop moet reageer om te bevestig dat ontgroening nie weer plaasvind nie. -SAPA

Lees die oorspronklike berig van 10 Mei op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.