Rugbyverkragting: Slegs een speler verdink

Die Baby Blacks ná hulle Vrydag teen die Baba Bokke verloor het. Foto: Luke Walker/Gallo Images

ʼn Speler van Nieu-Seeland se o.20-rugbyspan, die Baby Blacks, word vermoedelik aan ʼn klag van verkragting verbind en nié groepverkragting nie, het die polisie Dinsdag gesê.

Dit volg na ʼn 22-jarige vrou van Kaapstad Saterdag beweer het sy is Vrydagaand in ʼn hotelkamer verkrag ná die span hul wedstryd teen die Baba Bokke verloor het. Die vrou kon egter nie haar verkragters uitwys nie, omdat sy glo niks van die voorval kan onthou nie

Kolonel Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het aan die Associated Press gesê dat die gerugte dat daar ʼn groepverkragting plaasgevind het, slegs spekulasie is, omdat die vrou nie kan onthou wat gebeur het nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn personeellid van die hotel het gesê dit wil voorkom of die vrou die rugbyspelers vroeër ontmoet en geweet het in watter hotelkamer hulle tuisgegaan het. “Volgens van my kollegas was sy onder die invloed van alkohol. Sy het haar ouers Saterdagoggend gebel en gevra dat hulle haar moet kom oplaai en dat sy verkrag is,” het die werknemer aan The New Age gesê.

“Niemand kan in die stadium sê wie haar verkrag het nie. Polisie het verskeie onderhoude gevoer en steun op forensiese toetse se uitslae voor die saak aan die openbare vervolger oorgelewer gaan word, wat dan sal besluit of die saak verder ondersoek gaan word of nie,” het Naidoo gesê. Hy het ook bevestig dat die Nieu-Seeland se rugby-unie (NZRU) hul volle samewerking gee.

Almal in die rugbyspan is Saterdag die groen lig gegee om terug te keer Nieu-Seeland toe. NZRU het gesê hulle beskou die aantygings in ʼn ernstige lig en dat dit erge gevolge vir die beweerde slagoffer en oortreder inhou. Hulle het onderneem om hul volle samewerking te gee sou daar enige navrae in verband met die beweerde verkragting voortspruit. NZRU het bevestig dat ʼn speler DNS-monsters verskaf het om die polisie met hul ondersoek te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.