Rugbyverkragting: Speler kom na vore

Nathan Harris (20). Foto: Bay of Plenty Times

‘n Speler van Nieu-Seeland se o.20-rugbyspan, die Baby Blacks, het na vore gekom as die persoon wat van verkragting in Suid-Afrika beskuldig word.

Dit volg na ʼn 22-jarige vrou van Kaapstad Saterdag beweer het sy is Vrydagaand in ʼn hotelkamer verkrag ná die span hul wedstryd teen die Baba Bokke verloor het. Die vrou kon egter nie haar verkragter uitwys nie, omdat sy glo niks van die voorval kan onthou nie.

Nathan Harris (20), die Baby Blacks se haker, het Donderdag in ʼn verklaring gesê hy het sy span en sy familie in die steek gelaat.

Volgens Harris was dit hy en slegs hy, wat in die voorval betrokke was en hy hoop die verklaring sal sy span in ʼn beter lig plaas, berig 3News uit Nieu-Seeland.

In die verklaring erken Harris dat hy die Baby Blacks se reëls oortree het deur ‘n vrou in sy hotelkamer toe te laat tydens die toer. Hy het egter beskuldigings van verkragting ontken. Hy sê die afgelope vyf dae was baie stresvol vir hom en sy familie. “Ek het ʼn baie waardevolle les geleer en vertrou op die uitkoms van die ondersoek sodat my lewe kan voort gaan,” het hy gesê.

Kolonel Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het vroeër die week gesê die polisie steun op forensiese toetse se uitslae voor die saak aan die openbare vervolger oorgelewer gaan word, wat dan sal besluit of die saak verder ondersoek gaan word of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.