Só ry Madiba se daaglikse stoet deur PTA

Die roete van Mandela se daaglikse stoet. Grafika: Google Maps / Phillip Bruwer

Grafika: Google Maps / Phillip Bruwer

Die Tshwane-metro het Dinsdag gesê hulle is gereed vir die publiek om wyle oud-pres. Nelson Mandela se oorskot te sien waar hy van Woensdag af by die Uniegebou in staatsie gaan lê.

Blessing Manale, ‘n woordvoerder van die metro, het Dinsdag gesê ʼn groep afgevaardigdes gelei deur Nomvula Mokonyane, die Gautengse premier, sal Mandela se liggaam Woensdagoggend voor die publiek besigtig. Die afgevaardigdes gaan omstreeks 07:30 by die stadsaal deur die burgemeester, Kgosientso Ramokgopa en Mokonyane verwelkom word. Die afgevaardigdes gaan vanaf 08:30 na die Uniegebou geneem word waarna hulle om 10:00 Mandela se liggaam gaan besigtig.

Parkeer-en-ry-gebiede is beskikbaar by die 1) Tshwane Events Centre (Pretoria Skougronde), 2) die Fonteine Vallei-parkeerarea, en 3) die LC de Villers-stadion in Hatfield. Grafika: Google Maps / Phillip Bruwer

Parkeer-en-ry-gebiede is beskikbaar by die 1) Tshwane Events Centre (Pretoria Skougronde), 2) die Fonteine Vallei-parkeerarea, en 3) die LC de Villers-stadion in Hatfield. Grafika: Google Maps / Phillip Bruwer

Die publiek kan van 12:00 tot 17:30 af die liggaam aanskou. Mandela se oorskot sal tot Vrydag besigtig kan word.

Mandela se liggaam en stoet gaan tydens die drie dae daagliks om 07:00 van 1 Militêre Hospitaal in Thaba Tshwane na die Uniegebou geneem word. Die stoet vertrek van die hospitaal na Ou Pretoriaweg, waarna dit na die stad in Kgosi Mampurustraat  (Potgieterstraat) sal afry. Die stoet beweeg dan uit Madibastraat in ʼn oostelike rigting tot by die Uniegebou. “Die publiek word versoek om langs dié roetes ‘n openbare erewag vir Madiba te hou wanneer sy oorskot verbybeweeg,” het Manale versoek.

Volgens Manale word daar ʼn toename in verkeer in die middestad en rondom die Uniegebou verwag. Slegs mense wat met staatsbusse na die Uniegebou aangery word sal Mandela se oorskot kan besigtig, en privaatvoertuie sal nie toegelaat word nie.

“Parkeer-en-ry-gebiede is beskikbaar by die Tshwane Events Centre (Pretoria Skougronde), die LC de Villers-stadion in Hatfield, en die Fonteine Vallei-parkeerarea,” het Manale gesê. “Die publiek word weereens versoek om hier te parkeer en met busse tot by die Uniegebou te ry, aangesien slegs busse by die Uniegebou toegelaat gaan word,” het Manale benadruk.

Die stad het straatsmouse belet om tydens die drie dae op die betrokke roetes handel te dryf en het winkeleienaars langs die roete aangemoedig om nie handel te dryf nie weens die toename in voetgangers op die sypaadjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.