‘n Ryloper is met ‘n groot hoeveelheid mandrax-tablette in sy rugsak naby Grahamstad in die Oos-Kaap aangekeer.
“Die dwelmmiddels het ‘n beraamde straatwaarde van R240 000,” het kapt. Mali Govender, woordvoerder van Oos-Kaap, gesê. Die polisie was Sondag besig om voertuie op die N2-deurpad te deursoek toe hulle die 28-jarige man aangekeer het. Die man het 300 mandrax-tablette in sy rugsak gehad.
“Hy het glo van Port Elizabeth geryloop en het in dié stadium in ‘n donkerrooi Volkswagen Golf gery wat deur die polisie afgetrek is.” Die polisie het ook beslag gelê op mandrax-tablette wat in ‘n koerant toegedraai was. Die man sal binnekort in die landdroshof in Grahamstad verskyn op aanklag van dwelmbesit.