‘Ryloper’-padda se reis duur voort

Foto van ‘n Asian Common Toad. Foto: projectnoah.org

Die padda wat in Sjina in ‘n porselein-kershouer beland het en uiteindelik in Kaapstad opgeëindig het, sal nie van kant gemaak word nie.

“Die padda, Jack B Nimble, het Vrydagmiddag in Johannesburg aangekom,” het Hein Kaiser, woordvoerder van Mango-lugredery gesê. “Jack is deur sy versorger, Brett Glasby, ‘n inspekteur van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kaapstad, vergesel. Die 120-minuutlange vlug was moontlik Jack se kortste rit in maande.

Maroela Media het Donderdag berig die Asiese padda het van Sjina na Kaapstad ge-‘ryloop’. “Ons het al slange in ingevoerde hout en skerpioene in vrugte opgespoor, maar dit is die eerste keer dat ons op ‘n padda afkom,” het Glasby gesê. Die DBV is ontbied omdat die padda in die kershouer vasgekeer was. Volgens Glasby het die padda ‘n aanpassingsmeganisme wat insluit dat sy vel verhard om te verhoed dat die padda uitdroog, en sy hartklop en asemhaling daal ook om in tye van droogte te oorleef. Die DBV het vroeër gesê die padda sal van kant gemaak moet word, aangesien dit ‘n moontlike gevaar inhou vir inheemse paddas.

Die padda is Vrydag egter deur natuurbewaarders by die lughawe verwelkom en na ‘n bewaringsentrum in Fourways, Johannesburg vervoer.

“Dit is ‘n merkwaardige verhaal,” het Kaiser gesê. “Mens hoor in stadslegendes van katte met nege lewens, maar Jack het bewys dat deursettingsvermoë regoor die diereryk te bespeur is.” Volgens Kaiser was dit vir die lugredery onmoontlik om nie vervoer na Johannesburg vir Jack aan te bied nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.