Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Vrydag gesê hy is nog nie bewus daarvan dat Adil Bradlow, ‘n Suid-Afrikaanse kameraman en fotograaf, deur die Egiptiese owerheid in Kaïro aangehou word nie.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, het aan OFM gesê hy het pas van ‘n besoek aan Malaysië teruggekeer en sal vandag met die owerhede in Kaïro kommunikeer om meer inligting oor die situasie te bekom.
Die TV-nuusdiens Al Jazeera het Donderdagaand bekend gemaak dat Bradlow en nog drie van sy werknemers, Wayne Hay, Russ Finn en Baher Mohammed sedert Dinsdag in Egipte aangehou word. Die span was daar om oor die voortdurende onluste te berig. Die nuuskanaal het die Egiptiese owerhede versoek om die vier onvoorwaardelik vry te laat.
Bron: OFM