SA geteister deur indringer-vrugtevlieë

Bactrocera Invaden, die indringer vrugtevlieg

Indringer vrugtevlieë het glo sommige dele in die noordelike dele van Suid-Afrika besmet, het die departement van landbou Maandag gesê.

“Hierdie vrugtevlieg is ‘n indringerspesie met ‘n wye reeks van gashere, en dit veroorsaak erge skade aan gasheerplante,” het die departement gesê. Die pes is tans slegs in sekere dele van Suid-Afrika teenwoordig en pogings word tans aangewend om dit hok te slaan. Gasheerplante sluit veselperskes, sitrusvrugte, koejawels, papaja, piesangs, maroelas, wilde vye, soetrissies, pampoen en tamaties in.

Die departement sê die vrugtevlieë, wat as Bactrocera Invaden bekendstaan, is in Zeerust, Musina, Tshipise, Nwanedi, Witvlag, Levubu, Thohoyandou, Deerpark, Letsitele, Hoedspruit, Burgersfort, Mbombela, Malelane, en Komatipoort opgemerk. “Die departement sal in verdere hulpbronne, soos landbouchemikalieë (ter waarde van sowat R10 miljoen) belê en voorkomende stappe doen. ‘n Paar geïsoleerde gevalle van B. Invadens het in die noordelike dele van die land in 2010 en 2011 voorgekom, maar dit is telkens suksesvol uitgeroei. Die pes het weer in 2012 in Limpopo en Mpumalanga kop uitgesteek.

Die departement doen ‘n beroep op grondeienaars en vervaardigers om goeie landboupraktyke toe te pas. Vrot vrugte en vrugte wat afgeval het, moet begrawe word en moet ‘n halfmeter diep begrawe word. “Indien dit nie moontlik is om die vrugte te begrawe nie, moet sulke vrugte in sterk, onbeskadigde vullissakke geplaas word en dig toegemaak word om seker te maak dat die vrugtevlieë nie ontsnap nie. Die sakke moet dan in die son geplaas word.”

Geen persoon mag sonder toestemming vrugte van ‘n besmette gebied na ‘n onbesmette gebied vervoer nie. “Dit is van uiterste belang dat geen vrug na Suid-Afrika (van enige land af) gebring mag word sonder ‘n fitosanitêre invoerpermit nie. Indien die vlieë nie doeltreffend beheer word nie, kan die pes van besmette gebiede na ander, onbesmette, gebiede versprei word,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.