SA het sy oog op Olimpiese Spele 2024

Pres. Jacob Zuma het Dinsdag gesê die land sal “baie bly” wees om die eerste Afrika-nasie te word wat as gasheer vir die Olimpiese Spele kan optree vir 2024.

“Indien ons in die nabye toekoms die geleentheid gebied word, sal ons dit verseker verwelkom,” het Zuma aan verslaggewers by die Japanese Nasionale Persklub in Tokyo gesê. “Ek dink Suid-Afrika sal baie bly wees om as gasheer op te tree. Ek dink ons het voldoende fasiliteite om dit te behartig.”

Suid-Afrika was in 2010 die eerste Afrika-nasie om as gasheer op te tree vir die sokker-wêreldbeker.

“Sedert 1994 is ons ʼn deel van die wêreld en het ons al ʼn hele aantal belangrike wêreldgebeure aangebied,” het hy gesê.

Suid-Afrika het uit die aansoek vir die 2020-Spele onttrek, alhoewel Durban as die land se geskikte kandidaat beskou is. Die regering het in daardie stadium gesê hy het nasionale prioriteite wat aandag moet geniet.

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee het in 2012 ʼn uitvoerbaarheidstudie gedoen om aansoek te doen vir die 2024-Spele.

Die Internasionale Olimpiese Komitee sal op 7 September besluit of Tokyo, Istanbul of Madrid die Spele in 2020 sal aanbied. Aansoeke vir die 2024-Spele moet in 2015 ingedien word en die IOK sal in 2017 die gasheerland aankondig.

Nairobi (Kenya) en Casablanca (Morocco) is van die Afrika-stede wat hul belangstelling uitgespreek het om die Spele in 2024 aan te bied. Doha (Qatar) sal moontlik weer ʼn aansoek indien om die 2024-Spele aan te bied nadat hy nie die kortlys van kandidate vir 2020 gehaal het nie.

Parys is ʼn potensiële kandidaat vir die Somerspele in 2024 om die 100ste herdenking van die Spele in 1924 te vier.

Zuma woon tans ʼn internasionale konferensie oor bystand vir Afrika in Yokohama, Japan, by.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.