SA Jong Boer kry splinternuwe Hilux

Attie Scholtz

Attie Scholtz

Attie Scholtz (35), ’n boer van die Noord-Kaap, gaan met ’n splinternuwe Toyota Hilux-bakkie na sy plaas in die Douglas-omgewing terugkeer nadat hy die gesogte 2013-Agri SA/Toyota SA Jong Boer van die Jaar-toekenning gewen het.

Scholtz is ná talle uitdunrondes as die 2013 Jong Boer van die Jaar aangewys nadat hy aanvanklik as die Noord-Kaapse streeksfinalis aangewys is. Hy is uit ’n groep van agt streeksfinaliste as wenner aangewys.

Johannes Möller, die president van Agri SA, het Donderdagaand by die prysuitdeling in Johannesburg gesê vanjaar se finaliste het hul deursettingsvermoë bewys deur die uitdagings wat almal in die veranderende toestande in die landboubedryf in die gesig staar, te bowe te kom. “Hulle kyk doelgerig na volhoubare langtermyngroei om te verseker dat al die moontlike oorweeg is. Die finaliste het gewys gesonde besluitnemingsvermoë maak die verskil wanneer dit by die bou van ’n suksesvolle onderneming kom. Al die finaliste is puik aanspraakmakers en baie goeie boere in eie reg, maar Scholtz is ’n waardige wenner van hierdie gesogte toekenning,” het hy gesê.

Scholtz het as wenner suksesvol teen finaliste van al die ander provinsies in Suid-Afrika meegeding. Die finaliste is op grond van hul vertoning in hul eie onderskeie streke gekies, en moes tussen 18 en 35 jaar oud en vir minstens twee jaar lid van Agri SA se provinsiale organisasies wees. Al die finaliste is deur hul onderskeie provinsiale rade van Agri SA aangewys, en is op ’n magdom gebiede beoordeel, waaronder hul finansiële, sake en boerderyvaardighede, sowel as hul bestuursdoeltreffendheid. Hulle is ook met spesifieke fokus op hul eie bydrae, onafhanklikheid en besluitnemeingsvermoë beoordeel.

Scholtz het ’n BComm-honeursgraad in Sakebestuur en boer op Vaallus in die Douglas-distrik naby Kimberley in die Noord-Kaap. Hy boer met lusern, mielies, koring, gars en vleisbeeste. Hy besit en bestuur ook ’n vervoeronderneming wat hy gebruik om hoofsaaklik lusern van sy eie en omliggende plase af te vervoer.

Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika Motors se senior vise-president vir verkope en bemarking, was ’n spreker by die geselligheid en het die vermoë van boere in Suid-Afrika beklemtoon. “Boere weet hoe moeilik dit is en wat dit verg om kos op die land se tafels te sit. Ons bewonder jul onverskrokkenheid en jul vermoë om ‘plan te maak’. Ons respekteer jou vaardigheid as die bestuurder van ’n uiters uiteenlopende onderneming en bewonder jou vermoë om in sulke uitdagende omstandighede te werk.”

Die evaluerings is deur ’n paneel bekende landbouspesialiste gedoen. Hulle was die sameroeper, prof. Carlu van der Westhuizen van die Vrystaatse Sentrale Universiteit van Tegnologie, prof. Hentie van der Merwe van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Pieter Fourie van die Vrystaatse Sentrale Universiteit van Tegnologie, en Johannes Kokome van SAB Millers.

Die paneel wat Scholtz se boerderyvaardighede ontleed het, het hom vir die algehele beheer en bestuur van sy plaas, sy skitterende arbeidsverhoudinge en sy gelukkige werksmag wie se behuisings- en leeftoestande hy help verbeter het, sowel as vir die sterk finansiële bestuur van sy plaas en sy vervoeronderneming, geprys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.