SA-krieket gaan miljoene verloor oor “vete”

Haroon Lorgat

Haroon Lorgat

‘n Beweerde vete van die voorsitter van die Indiese krieketbaas teen Haroon Lorgat, Suid-Afrika se krieketbaas, kan Krieket Suid-Afrika miljoene rande kos.

Lorgat, ‘n voormalige voorsitter van die Internasionale Krieketraad, is teen die wense van die Indiese krieketbase tot grootbaas van krieket in Suid-Afrika verkies. Die Indiese beheerliggaam het Lorgat se verkiesing as “vermetel” beskryf. Die verhouding het glo versuur omdat Lorgat tydens sy IKR-termyn, sy rug styf gemaak het vir die boelie-taktiek van die Indiese krieketbase.

‘n Storm het verlede week reeds in Suid-Afrikaanse krieket begin broei toe dit via die media rugbaar geword het dat die komende Indiese kriekettoer na Suid-Afrika aansienlik verkort kan word. Plaaslike bonde en bedryfsregte se planne vir kaartjieverkope het in die gedrang gekom, en Johannesburgers wat seisoenkaartjies aanskaf sal dan nie die beloofde toets waar die Indiese kolfmeester, Sashin Tendulkar sy 200ste toets sou speel, kan gaan kyk nie.

Van die bedryfsregte het Krieket SA verkwalik dat hulle die bonde in die duister hou.

Na wat berig word kan die verkorte toer en die weglating van Suid-Afrika as een van die hooflede van die Kampioenskapsliga soveel geldelike verliese vir Krieket Suid-Afrika teweeg bring dat dit geldelik onderdeur sal spring. ‘n Totale bedrag van R340 miljoen wat vir die twee geleenthede ingeboet sal word, word genoem.

In Julie is reeds berig dat Lorgat sê hy weet nie hoe hy die Indiese krieketbase in die gesig gevat het nie, maar dat hy nogtans bereid is om om verskoning te vra.

Tensy sake vinnig beredder word sal Tendulkar nou sy 200ste toets in Indië teen Wes-Indië speel, in een van die toetse wat die Indiese krieketbase gereël het in die plek van die langer toer na Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.