SA kry forensiese hulp by Nederland

Die Nederlands Forensisch Instituut (NFI) het aangekondig dat dié instelling ‘n opleidingslaboratorium in Suid-Afrika gaan oprig, wat as CSI Cape Town gaan bekend sal staan. Die NFI maak daarop aanspraak dat dit van die nuutste tegnologie gebruik maak.

Die Nederlandse pers berig oor die NFI se planne dat Suid-Afrika baie misdadig is en dat die moord- en verkragtingskoers van die hoogste in die wêreld is. “Opsporingsondersoeke word selde by misdaadtonele gedoen terwyl die land besonder gevaarlik is,” berig verskeie koerante wat dieselfde berig dra. Voorts word berig dat selfooninligting en vingerafdrukke dikwels glad nie aandag kry nie.

Die opleidingsentrum, waarvan die deure binne ‘n jaar moet open, sal opleiding oor alle aspekte van opsporing verskaf.

Die NFI is in Den Haag gesetel, en doen multi-dissiplinêre ondersoeke wat patologie-, chemiese-, toksikologie-, en forensiese wapenondersoeke insluit, asook omgewings- en digitale ondersoeke. Onder die vennote tel Philips, Thales, die Den Haagse Universiteit van Toegepaste Tegnologie en verskeie ander.

Die media berig voorts dat die eerste laboratorium moontlik deur ‘n hele reeks sulke opleidingsgeriewe gevolg kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.