Susanne du Toit, ʼn kunstenaar wat in Suid-Afrika gebore is, het pas ʼn prys van £30 000 (sowat R470 000) ingepalm vir ʼn olieskildery van haar seun, Pieter.
Du Toit, wat nou in Crowthorne, Berkshire in Engeland bly, het die eerste prys behaal in die BP Portrait Award, berig The Guardian. Sy wen ook ʼn kommissie van die galery se trustees ter waarde van £5 000 (byna R80 000). Sy het haar seun as deel van ʼn reeks portrette van haar familie geverf.
Sy het Pieter toegelaat om self te besluit hoe hy wil sit, met die voorwaarde dat sy hande prominent sal wees, aangesien sy hulle “noodsaaklik” vind om “persoonlikheid uit te beeld”.
Haar skildery sal by die National Portrait Gallery in Londen uitgestal word. Sandy Nairne, direkteur van dié galery, het gesê Du Toit se skildery is “eenvoudig, maar uitstekend”.
Bykans 2 000 kunstenaars van 77 verskillende lande het aan die kompetisie deelgeneem. John Devane van Coventry in Engeland het die tweede prys behaal met sy skildery van sy drie kinders. Hy het £10 000 (byna R156 000) ontvang. Owen Normand van Skotland, wat nou in Berlyn, Duitsland, bly, het £7 000 (ongeveer R110 000) ontvang in die kategorie vir Jong Kunstenaars.