SA-laboratorium toets Belgiese duiwe positief vir kokaïen

Argieffoto

Argieffoto

Dit gons Donderdagoggend in die Belgiese pers ná dit bekend geword het dat ‘n Suid-Afrikaanse laboratorium ses uit 20 Belgiese duiwe positief getoets het vir dwelmmiddels, waaronder kokaïen. Daar word veral kopgekrap omdat presies dieselfde duiwe deur ‘n laboratorium by die Universiteit van Gent getoets is, en niks verdags opgespoor is nie.

‘n Afvaardiging van die Belgiese Duivenbond het besoek gebring aan die laboratorium van die Nasionale Perdewedrenowerheid van Suider-Afrika, waarop besluit is om monsters van twintig duiwe na die laboratorium te stuur vir ontleding. Die Belgiese ringkoppe, aldus die Vlaamse pers, het amper van hul stoele afgeval toe dr. Schalk de Kock, direkteur van die laboratorium, die uitslae aan hulle oorhandig.

Ses van die duiwe het vir ses verbode middels positief getoets, waaronder kokaïen en Mobistix. Mobistix word veral vir koors- en pynwering gebruik.

Daar sal oor die volgende paar maande beslis word of die Suid-Afrikaanse laboratorium voortaan die toetse vir die Belge mag uitvoer.

Nuwe regulasies oor dwelmgebruik tree volgende jaar vir die duiwesport in werking.

– Belga

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.