SA maak gereed om afskeid te neem van Nelson Mandela

Nelson Mandela. Foto: SAPA

Nelson Mandela. Foto: SAPA

Suid-Afrikaanse owerhede begin reeds gereed maak om honderde wêreldleiers na die land te verwelkom vir oudpresident Nelson Mandela se begrafnis.

Die Amerikaanse president Barack Obama was een van die eerstes om te bevestig dat hy na Suid-Afrika sal vlieg om Mandela te eer. Die voormalige Amerikaanse presidente George W. Bush en Bill Clinton het ook aangedui dat hulle die begrafnis sal bywoon. Volgens berigte gaan nagenoeg 140 staatshoofde die begrafnis bywoon.

Intussen meen reisagente dat dit haas onmoontlik gaan wees om hotelkamers en huurmotors in Gauteng te kry gedurende die 10 dae van rou wat Vrydag begin het, ure nadat Mandela by sy huis in Houghton in Johannesburg oorlede is. Eric Sakawsky, bestuurder van Corporate Traveller, sê regeringsdepartemente en diplomatieke sendings het reeds begin om blokbesprekings te maak by hotelle in Gauteng.

ʼn Kransleggingseremonie vir Mandela word Saterdag in Johannesburg gehou voor huldigingsdienste in elke provinsie en streek gehou sal word. Die amptelike huldigingsdiens word Dinsdag by die ENB-stadion in Soweto gehou waarna Mandela se oorskot in staatsie in Pretoria sal lê van 11 tot 13 Desember. Mandela se oorskot sal dan na Qunu geneem word vir sy amptelike begrafnis wat op 15 Desember gehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.