SA man kry amnestie in Thailand

Alexander (Shani) Krebs.

ʼn Suid-Afrikaner wat reeds 18 jaar tronkstraf uitgedien het in Thailand het spesiale vergunning van die Thaise koning gekry om volgende maand huis toe te kom.

Alexander (Shani) Krebs is op 26 April 1994 in Bangkok in hegtenis geneem vir dwelmhandel en is die doodstraf opgelê. Hy was 34 ten tyde van sy inhegtenisneming. Sy vonnis is egter later na 100 jaar tronkstraf en toe na 40 jaar tronkstraf verminder. Hy is in die Bang Kwang-gevangenis aangehou. Op 5 Desember het Koning Bhumibol Adulyadej van Thailand sy 84ste verjaardag gevier en amnestie toegestaan aan buitelandse gevangenes wat aan dwelmoortredings skuldig bevind is. Krebs, nou 52, sal na verwagting op 28 April terug wees by sy familie in Johannesburg. Krebs se suster, Joan Sacks, sê dit is “onbeskryflik”. “Ek het al die jare gebid dat hy sal huis toe kom, maar ek het nooit gedink dat hy ʼn vry man sal wees nie.” Sacks sê haar broer was met vakansie in Thailand nadat hy en sy verloofde se verhouding versuur het. “Terwyl hy daar was, is al sy geld en besittings uit sy hotelkamer gesteel. Hy het later ʼn Nigeriese man ontmoet in ʼn kroeg wat hom gevra het om ʼn sak na Suid-Afrika toe te bring. Aangesien al sy bagasie gesteel is, was dit die enigste sak wat hy by hom gehad het, en hy is op die lughawe gevang. Ek weet nie of hy geweet het dat daar heroïne in die sak was nie.” Sacks sê sy en haar 88-jarige ma het vir Krebs ʼn iPhone en ʼn skootrekenaar gekoop. “Dit gaan moeilik wees vir hom in 2012 aan te pas. Hy het die afgelope 18 jaar op ʼn sementvloer geslaap so dit kan ʼn ruk neem vir hom om aan ʼn bed gewoond te raak.”

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.