SA man lewendig gevind in Indonesiese see

Brett Archibald. Foto: NSRI

Brett Archibald (50) van Kampsbaai in Kaapstad is lewendig gevind nadat hy vir meer as ʼn dag lank in die Indonesiese see rondgedryf het nadat hy tydens ʼn visvangreis oorboord geval het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê Archibald het vroeg Woensdagoggend omstreeks 5:00 (00:00 Suid-Afrikaanse tyd) oorboord geval terwyl die vissersboot onderweg was na die Mentawaii-eilande naby Soematra. Volgens die NSRI is omstandighede rakende die voorval nog nie bekend nie maar is ʼn reuse soek- en reddingspoging na Archibald van stapel gestuur. ʼn Facebook-groep wat na Archibald se verdwyning begin is, het bevestig dat hy Donderdagoggend omstreeks 8:30 (3:30 Suid-Afrikaanse tyd) deur ʼn reddingsboot gevind is. Archibald het sonbrand opgedoen en is gedehidreer nadat hy vir langer as 27 uur in die see was. Hy het glo sowat 16km ver gedryf van waar hy vermoedelik oorboord geval het. Archibald het glo eers op sy rug rondgedryf waarna hy glo later aan ʼn stomp vasgeklou het. Archibald het glo oorboord geval nadat hy seesiek geword het en oor die kant van die boot gehang het. Hy sê hy het ten minste agt keer onder die water gegaan terwyl hy in die see rondgedryf het.

Die boot wat Archibald gevind het, sowat 16km van waar hy glo oorboord geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.