SA-man swem ysige Skotse meer

Ram Barkai

ʼn Suid-Afrikaner het een van die wêreld se ysigste swemuitdagings Donderdag in ʼn Skotse meer voltooi, het ʼn woordvoerder vir die Internasionale Ysswemvereniging gesê.

Ram Barkai het 1.6 km (een myl) oor Loch Faskally, naby Pitlochry in die Skotse Hooglande geswem. Die watertemperatuur was ongeveer 2° celsius. Mede-Suid-Afrikaner Gavin Pike het 1.4 km geswem. ʼn Ysswem word amptelik erken wanneer dit oor een myl strek in water kouer as 5° celsius. Die buitetemperatuur was ongeveer -2° celsius. Craig Doonan, woordvoerder vir die vereniging het Vrydag gesê die mans het 35 minute in die water spandeer en het net Speedo-baaibroeke, swempette en swembrille aangehad. Barkai hou die Guinness Wêreldrekord nadat hy in 2008 ʼn kilometer ver in ʼn Antarktiese meer met ʼn watertemperatur van 1° celsius geswem het.

Sy kordaatstuk sal hierdie jaar in ʼn televisieprogram, Stan Lee’s Superhumans, vertoon word. Na die swem het Barkai gesê hy voel verkluim en hy kon skaars beweeg. “Ek besef dat ons werklik ons onsself tot die uiterste beproef. Dit was ʼn baie moeilike swemuitdaging, moontlik die ergste een wat ek nog ooit gedoen het,” het Barkai gesê. Pike het gesê die impak van die koue was uitermatig. “Ek was nie in ʼn goeie toestand toe ek uitgeklim het nie, maar ons altwee het dit reggekry om onder ʼn dokter se toesig en ons ondersteuningspanne weer te herstel.”

Barkai, wat die Internasionale Ysswemvereniging gestig het, het aangetoon dat sy volgende uitdaging ʼn internasionale aflosswem in Julie oor die Beringstraat tussen Rusland en die VSA sal wees. Mede-Suid-Afrikaanse ultraswemmers Ryan Stramrood, Toks Viviers, Kieron Palframan en Andrew Chin sal dan by Barkai aansluit. Op Oujaarsaand het Barkai saam met Ierse langafstandswemmers, Anne-Marie Ward en Nuala Moore, ʼn myl afgelê in water van 6° celsius in Mulroy Bay, Noord-Ierland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.