SA-man “te vet” om in Nieu-Seeland te bly

Argieffoto

Owerhede in Nieu-Seeland het aan ‘n Suid-Afrikaanse kok gesê hy is te vet om toelating te bekom om in die land te bly, berig BBC News.

Albert Buitenhuis, wat 130kg weeg, het volgens immigrasiebeamptes nie ‘n “aanvaarbare standaard van gesondheid” nie. Hy kan nou gedeporteer word, ondanks die feit dat hy, sedert hy ses jaar gelede na Christchurch verhuis het, 30kg verloor.

Nieu-Seeland het die derde hoogste voorkoms van vetsug in die ontwikkelde wêreld, met nagenoeg 30% van mense wat aan vetsug ly.

Buitenhuis en sy vrou, Marthie, het in 2007 na Christchurch verhuis. Hy het in daardie stadium 160kg geweeg.

Hul werksvisums is elke jaar met “baie min probleme” hernu. “Ons het jaar ná jaar aansoek gedoen sonder probleme,” het Marthie gesê. “Hulle het nooit enigiets oor Albert se gewig of gesondheid te sê gehad nie.”

Die egpaar is vroeg in Mei egter in kennis gestel dat hul visums afgekeur is weens Buitenhuis se gewig. Hulle het ‘n versoek gerig aan die minister van immigrasie in Nieu-Seeland en hom gewys op Buitenhuis se onlangse gewigsverlies.

‘n Woordvoerder van immigrasie het gesê sy aansoek is afgekeur omdat vetsug hom op ‘n hoë risiko plaas vir diabetes, hoë bloeddruk en hartversaking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.