SA man wen Facebook-lastersaak

ʼn Man van Johannesburg het ʼn hofbevel gekry om sy voormalige vriendin te keer om lasterlike opmerkings teenoor hom op Facebook te plaas.

Saturday Star berig dat regter Nigel Willis se uitspraak vroeër die week in die Suid-Gautengse hooggeregshof beteken dat Facebook-gebruikers gedagvaar kan word weens lasterlike opmerkings op dié sosiale netwerk. Die man se vriendin het op 27 Februarie verlede jaar op haar Facebook-blad geskryf dat sy wonder wat van die man wat vir langer as 15 jaar haar beste vriend was geword het. Sy het onder meer gesê dat sy elke dag die hartseer gesiggies van die man se twee dogtertjies moet sien en gevra of die alkohol, dwelms en kerk geblameer moet word vir sy gedrag en of dit eerder die rede is hoekom hy nie verantwoordelikheid vir sy gedrag hoef te neem nie. Die man het die hof genader en gevra dat die vrou verbied word om lasterlike opmerkings van hom op Facebook te maak en dat sy sy regskostes moet betaal. Volgens die man het die Facebook-plasings hom uitgebeeld as ʼn pa wat nie finansieel vir sy gesin voorsien nie. Die man is besig om van sy vrou te skei en laasgenoemde bly tans by die vriendin wat deur die man gedagvaar is. Die vrou is ook vroeër deur die egpaar aangewys as hulle twee dogtertjies se peetouer.

Regter Willis het die vrou beveel om alle plasings wat oor die man handel van Facebook en alle ander sosiale netwerke te verwyder en om die man se regskostes te betaal.

BRON: Saturday Star

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Swak joernalistiek! ‘n man het van Tafelberg gespring en het oorleef, so het ander mense my meegedeel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.