SA-ners vaar goed in Dakar-wedren

Foto: Mark Corbett

Die Suid-Afrikaner, Mark Corbett, en sy medebestuurder Francois Jordaan het Maandag tydens die tweede fase van die Dakar-wedren goeie vordering gemaak in hul Century Racing CR4-verewaentjie.

Die paar het Sondag in die 60ste posisie weggespring en in die 27ste plek in die openingsfase geëindig. Hulle was in die 17de posisie tydens die tweede fase, 33 minute 41 sekondes agter die faseleier, Nasser Al-Attiyah van Qatar.

Giniel de Villiers Foto: Themba Maseko

Mede-Suid-Afrikaner Giniel de Villiers het sesde in die fase geëindig en sy algehele vierde plek behou met sy V8 Toyota Hilux, drie minute en 49 sekondes agter die algehele leier Stephane Peterhansel van Frankryk. De Villiers se spanmaat en landgenoot, Duncan Vos, het ook op die tweede dag baie goed gevaar en in die 18de plek algeheel geëindig.

Corbett, wat aan sy eerste Dakar-wedren deelneem, het gesê dat hulle tevrede is met hul prestasie tydens die tweede fase. “Ons is bemoedig deur die span se vordering maar ons gaan nie nou laat slaplê nie. Daar is nog ʼn baie lang pad wat voor ons lê en ons pak dit dag vir dag aan. Ons hoofdoel is om die resies te voltooi.” Corbett het ook gesê dat hul tweewiel-aangedrewe Toyota V8 baie goed hanteer oor die rowwe padoppervlak en dat hy ook baie sterk steun op die ervaring van sy medebestuurder. “Ons het nie enige probleme ervaar nie; Francois het homself wonderlik van sy taak gekwyt om ons deur die duine te kry en die CR4 het nie een keer probleme gegee nie,” het Corbett gesê. “Die 295 km-fase tussen Santa Rosa de la Pampa en San Rafael was tydens die eerste helfte baie vinnig en ons moes behendig deur die grys sandduine, kenmerkend aan dié vulkaniese gebied, bestuur.”

Corbett vier Woensdag sy 38ste verjaarsdag en dié Johannesburgse eiendomsontwikkelaar sien daarna uit om dit met nog ʼn probleemvrye fase tydens die 8 500 km-motormarathon deur Argentinië, Chili en Peru te vier. Die derde fase strek oor die 293 km tussen San Rafael en San Juan in Argentinië oor die voorheuwels van die Andesgebergtes op pad na die hoë oorgang na Chili op 6 Januarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.