​Top-ingenieurstudent ontvang gesogte Kanseliersmedalje

Matthew Brandon Baas. Foto: US

Matthew Brandon Baas is as vanjaar se ontvanger van die Universiteit Stellenbosch (US) se gesogte Kanseliersmedalje aangewys.

Die US-student het vroeër die week die graad BIng (Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese) cum laude by ʼn virtuele gradeplegtigheid vir graduandi van die Fakulteit Ingenieurswese ontvang.

Baas het die hoogste gemiddelde punt ooit in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en die Fakulteit Ingenieurswese behaal. Hy het ʼn finale punt van 100% vir meer as ʼn derde van sy modules behaal, en het elke jaar sy graadstudie met lof geslaag.

Afgesien daarvan het Baas ook 100% vir sy finalejaarprojek ontvang. Die projek is vir voorlegging by SACAIR, ʼn internasionale konferensie wat op kunsmatige intelligensie fokus, aanvaar en ʼn artikel getiteld “Communications in Computer and Information Science” is aanvaar om in die Springer-boekreeks te verskyn.

“Om die Kanseliersmedalje te ontvang, beskou ek as ʼn boodskap van die universiteitsbestuur dat hulle my werk wat ek sover gedoen het, erken en goedkeur. Dit is ook vir my ʼn bevestiging dat ek myself in die regte rigting stuur om aan die waardes van die US te voldoen. Ek voel nederig om so ʼn bevestiging te ontvang, aangesien dit slegs moontlik was danksy my familie, vriende en kollegas se ondersteuning,” sê Baas.

Die Kanseliersmedalje is vir die eerste keer in 1961 toegeken en word jaarliks aan ʼn finalejaar- of nagraadse student toegeken wat nie net akademies uitgeblink het nie, maar ook op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra en hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel.

Dit is die agtste keer die afgelope twee dekades dat ʼn ingenieurstudent die Kanseliersmedalje verower. Volgens prof. Wikus van Niekerk, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, is hy “baie bly” dat een van hul studente weer eens die gesogte toekenning ontvang het. Volgens hom is dit die “hoogste prestasie vir ʼn student by die Universiteit Stellenbosch” en “die grootste eer” wat die universiteit aan ʼn student vir sy/haar akademiese prestasies kan bewys.

Baas sê sy resep vir sukses sluit in om sy passie vir elektroniese ingenieurswese uit te leef en om goeie gewoontes aan te leer.

“Om ʼn opregte liefde vir die vakgebied of onderwerp te hê, kan selfs die hersiening van die mees alledaagse kursusinhoud ophelder en terselfdertyd ondersteun dit die aanleer van verstandige gewoontes. Hoe langer ʼn mens met hierdie passie en gewoontes volhou, hoe waardevoller raak hierdie opgehoopte voordele,” sê Baas.

Baas het regdeur sy studiejare verskeie toekennings vir akademiese prestasie ontvang; hy het verskeie entrepreneurskompetisies en wetenskap-hackathons gewen, asook aan nasionale en internasionale konferensies deelgeneem. Hy is nie net ʼn uitnemende student nie, maar ook uiters aktief as navorser. Verskeie artikels wat Baas geskryf het, of waarvan hy die medeskrywer was, het al verskyn. Hy het ook verskeie praatjies gelewer.

Hy is een van die medestigters van die beginnerstegnologiemaatskappy Ackerview. Die maatskappy verskaf oplossings vir die intelligente bemesting van steenvrugboorde. Baas is verantwoordelik vir die maatskappy se sagteware agter die skerms en datawetenskapontwikkelings – ʼn taak wat hy op ʼn deeltydse grondslag verrig.

 

“Die idee vir Ackerview het eintlik in my laaste jaar op hoërskool by Stellenbosch se Ingenieursweek ontstaan. Ek het gedurende hierdie winterweek ongelooflike talentvolle en gemotiveerde mense ontmoet. Een van hulle was Torsten Babl, saam met wie ek Ackerview op die been gebring het. Namate ons egter met ons graadstudie gevorder het, het beperkings op ons tyd en energie ons gedwing om ons werk aan Ackerview in daardie stadium af te skaal. Ongeag wat Ackerview se eindbestemming is, was die entrepreneurslesse wat ek in die proses geleer het, van onskatbare waarde. Ek beplan om beslis hierdie lesse in die toekoms te benut,” sê Baas.

Sy talente en belangstellings strek egter baie verder as die akademiese sfeer. Hy is ʼn aktiewe deelnemer aan e-sport en bordspeletjieverenigings op kampus. Hy is ʼn lid van die Gilde-studentevereniging vir die kaartspel Magic the Gathering.

Baas beplan om sy navorsingswerk voort te sit, hetsy in die akademie, die korporatiewe wêreld óf ʼn entrepreneursonderneming.

  • Hierdie artikel is geskryf en saamgestel deur die korporatiewe afdeling van die Universiteit Stellenbosch.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.