‪Elgin-brand woed voort

Die omvang van die Elgin-brand (Grafika via Greater Overberg FPA, Facebook)

Die omvang van die Elgin-brand (Grafika via Greater Overberg FPA, Facebook)

ʼn Groot veldbrand in Elgin, in die Overberg-streek in die Wes-Kaap, woed steeds voort nadat dit Saterdag in die Houwhoek-pas begin het.

Die N2 was sedert Saterdagaand vir ʼn paar ure lank gesluit toe die vlamme weens die wind die pad oorgesteek het.

Die veldbrand was Sondag buite beheer, aangesien brandbestryders nie daarin kon slaag om te keer dat dit oor Highlandsweg versprei nie. Brandbestryders het gepoog om te verhoed dat dit na die Kogelberg-natuurreservaat versprei, aangesien dit ʼn ekologiese ramp sou wees indien die vierjarige veld met sy seldsame en bedreigde spesies, sou afbrand.

ʼn Groot deel tussen die Rooiheuwelgebied op die Van der Stelspas tot Honingklip in Botrivier het gebrand.

Twee Working on Fire-helikopters, twee Oryx-helikopters van die SA Lugmag, 80 bemanningslede, 10 brandweerwaens en meer as 100 grondeienaars het deurgaans gewerk om die brand onder beheer te bring, het
Greater Overberg FPA op sy Facebook-blad bevestig.

Rook van die brand het Sondag tot in Kaapstad gehang.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie ·

Die rook in Die Kleinmondomgewing is minder vanoggend. Die wind is ook stil. Daar is gerugte dat dit brandstigting was. Genadiglik geen lewensverlies nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.