1 000 plakkershutte in brand verwoes

(Foto: Twitter)

Minstens 1 000 plakkershutte is verwoes en honderde mense is dakloos gelaat nadat ’n brand Donderdagmiddag in die Masiphumelele- informele nedersetting buite Kommetjie in Kaapstad uitgebreek en verwoesting gesaai het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê brandbestryders is omstreeks 16:13 na Masiphumelele ontbied waarna ’n sterk wind brandbestryders se taak bemoeilik het.

Altesaam 40 brandbestryders, agt brandbestrydingstoestelle en ’n helikopter is ingespan om die vlamme te blus. Die brand is eindelik in die vroeë oggendure geblus.

(Foto: Twitter)

Die veldbrand wat gistermiddag teen die berghange naby Kampsbaai gewoed het, is intussen ook geblus.

Niemand is in die Kaapse brande beseer nie.

Die Stad Kaapstad doen egter ’n beroep op mense om noodsaaklike items soos komberse, babakos, doeke, babamelk en niebederfbare kos aan die organisasie Living Hope in Masiphumelele te skenk vir diegene wie se besittings in die brand verwoes is.

Dan Plato, die burgemeester van Kaapstad, sal die brand binne die volgende 72 uur tot ’n plaaslike ramp verklaar sodat die nodige hulpbronne en noodlenigingsmateriaal beskikbaar gestel kan word.

Living Hope kan by 082 465 9067 genader word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Waarom is daar 26 jaar ná apartheid dan nog plakkerskampe???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.