1 dood, 1 gewond in Durbanse ‘motorkaping’

Argieffoto

’n Man is dood en ’n ander gewond nadat hulle Vrydagaand in vermoedelik ’n motorkaping in Durban in KwaZulu-Natal geskiet is.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê paramedici is kort na 21:00 na die toneel op Bereaweg naby ’n vulstasie in die stad ontbied.

Een van die mans, vermoedelik in sy 20’s, is tydens die voorval in die bors geskiet en het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Die ander man is gedurende die voorval in die bolyf geskiet. Paramedici het die man op die toneel behandel waarna hy na ’n nabygeleë hospitaal gehaas is.

Jamieson het verduidelik dat dit in die stadium nie duidelik is wat tot die skietvoorval gelei het nie. Die polisie stel ondersoek in.

Maroela Media wag op terugvoer van die polisie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.