1 dood, 10 beseer op Suid-Afrikaanse paaie

Die ongelukstoneel buite De Doorns in die Wes-Kaap.

Een persoon is dood en altesaam tien ander beseer tydens drie verskillende motorongelukke wat tussen Woensdagaand en Donderdagoggend plaasgevind het in aanloop tot die Paasnaweek.

In die Wes-Kaap het ʼn trompop botsing op die N1-snelweg buite De Doorns vanoggend die lewe van een persoon geëis. Ses ander mense is in dié ongeluk beseer.

Volgens Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het ʼn Kia Picanto-motor en ʼn Nissan-bakkie vroegoggend reg van voor gebots. “Die bestuurder van die Kia Picanto het in die ongeluk omgekom en twee ander passasiers van dié voertuig is beseer,” het Africa gesê.

Een persoon was in die wrak van die bakkie vasgekeer en nóg drie ander passasiers van dié voertuig is in die voorval beseer. Nooddienste kon daarin slaag om die persoon uit die wrak te bevry en die pasiënte is op die toneel behandel.

In ʼn soortgelyke voorval is twee persone vanoggend beseer, van wie een kritieke beserings opgedoen het, tydens ʼn trompop botsing tussen ʼn motor en ʼn bakkie op die R500 buite Carletonville in Gauteng.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24,is nooddienste omstreeks 08:00 na die toneel ontbied waar die voertuie langs die pad gestaan het. Die bestuurder van die bakkie, ’n man, het op die toneel rondgeloop terwyl die bestuurder van die motor, ’n vrou, in die wrak van dié voertuig vasgekeer was.

Nooddienste kon na ’n uurlange gespook daarin slaag om die vrou met behulp van meganiese toerusting uit die wrak te bevry. Die vrou het kritieke beserings in die botsing opgedoen, het Meiring gesê.

Albei pasiënte is op die toneel behandel waarna die vrou per helikopter na ’n hospitaal vervoer is. Die man is per ambulans na ’n hospitaal vervoer.

Die ongelukstoneel buite Kroonstad in die Vrystaat. (Foto: ER24)

In die Vrystaat is twee mense Woensdagaand beseer gelaat nadat hulle motor van ’n wal op die N1 in die Kroonvaal-gebied afgerol het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici omstreeks 22:45 na die toneel ontbied waar ’n motor op sy sy in die veld langs die pad aangetref is. ’n Man het ’n ent van die wrak af gelê terwyl ’n ander man op die toneel rondgeloop het.

Meiring het gesê die mans is op die toneel deur paramedici ondersoek. Die man in die veld het kritieke beserings in die ongeluk opgedoen terwyl die ander man lig van die voorval afgekom het.

Die man in die kritieke toestand is per helikopter na ’n hospitaal vervoer terwyl die ander man per ambulans na die Lenmed-hospitaal in Randfontein in Gauteng geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kerrie Vlam-Skiet Briekstreep ·

.
.
….jy kan n bestuurs-lisensie koop……maar ongelukkig maak dit jou nie n logiese denker nie.

.
.

Michelle ·

Mense dink nie, daar is geen respek vir enige ander een op die pad nie. Daar word onder die invloed bestuur, daar word gejaag, daar word nie gerus nie, mense bestuur met een hand en selfone in die ander, party lê en bestuur. Hoeveel lewens kon gered gewees het as almal net respek vir mekaar toon op die pad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.