1 dood, 2 gewond ná skietgeveg met polisie

Maroela Media het die foto verbloem weens die grafiese aard daarvan. (Foto: Verskaf)

ʼn Verdagte is Dinsdag dood en twee ander gewond gedurende ʼn skietgeveg met polisie in Naturena in Johannesburg.

Volgens kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het polisiebeamptes gister patrollie op die N12 gery toe hulle verdagte mans in twee motors, ʼn Ford Ranger en Audi, opgemerk het. Die polisie het dié voertuie genader en aangedui dat die voertuie van die pad af moet trek.

Die bestuurders van die voertuie het egter versuim om dit te doen en al vinniger gery. ʼn Hoëspoed-jaagtog het ontstaan waartydens die verdagtes skote op die polisie afgevuur het. Die polisie het teruggeskiet waarna die Ford Ranger eindelik deur die polisie voorgekeer is nadat die bestuurder beheer oor die motor verloor het, het Masondo gesê.

Een van die verdagtes het in dié skietgeveg omgekom en twee ander is beseer.

Die beseerdes is onder polisiebewaking na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese sorg. Geen polisiebeamptes is in die voorval beseer nie, het hy gesê.

Volgens Masondo dui ʼn voorlopige ondersoek daarop dat die Ford Ranger verlede maand in Hillbrow as gesteel aangemeld is. ʼn Ondersoek is gevolglik van stapel gestuur om vas te stel of die verdagtes by enige ander misdade betrokke is.

ʼn Saak van poging tot moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn vermoedelik gesteelde motor is aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tino ·

Dis nou jammer dat daar 2 is wat die belasting betaler geld kos in die hospital.

Wel gedaan SAPD dat dit nie 3 is nie.

GM ·

Kriminele behoort nie gehaas te word na hospitale terwyl hulle nie ‘n greintjie omgee vir ‘n ander se lewens nie.

Gert van Wierdapark ·

Stem 300% saam. Die skurke behoort met voet-boeie na n Staats hospitaal vergesel te word – verkieslik te voet sodat daar nie brandstof vermors word op kriminele nie. By die hospitaal aan gekom, MOET hul dan ook eers die nodige aansoekvorms voltooi sodat die rekening by die korrekte adres kan uitkom. “Red Tape” moet tot op die fynste besonderhede uitgevoer word met tyd wat nie n faktor moet wees nie! So kan skurke “bloed skenk” sonder die bloedoortappings diens se betrokkenheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.