Een persoon is dood en twee is kritiek beseer nadat ʼn motor Donderdagoggend in Randfontein, Gauteng, teen ʼn boom vasgery het.
Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het gesê die ongeluk het in Condorrylaan in Helikonpark plaasgevind. “Die motor het die pad verlaat en ʼn boom getref,” het Botha gesê. “Dit is nog nie duidelik wat daartoe gelei het dat die bestuurder beheer oor die motor verloor het nie. Die polisie ondersoek die ongeluk.”
Al drie persone was in die wrak vasgekeer. “Een persoon was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Twee mense, ʼn man en ʼn vrou, het kritieke beserings opgedoen.”
Die brandweer het meer as twee ure lank gespook om die beseerde pasiënte uit die wrak te bevry, terwyl paramedici probeer het om hulle te stabiliseer. Die vrou is met ʼn helikopter en die man met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.