1 dood, 2 vas ná skietery met polisie

Argieffoto

Een verdagte is dood en twee gewond en in hegtenis geneem tydens ʼn skietery met die polisie in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal.

Die blitspatrollie en honde-eenheid is Donderdagaand in kennis gestel oor drie verdagtes wat glo betrokke was by diefstal uit motors in die Howick- en Town Hill-omgewing.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê terwyl die polisiebeamptes ondersoek langs die hoofroetes in die gebied ingestel het, het hulle ʼn voertuig gesien met dieselfde beskrywing as wat vir hulle gegee is.

“Die beamptes het die motor van die pad af probeer trek, maar die bestuurder het weggejaag. Die beamptes het die motor agternagesit en ʼn skietgeveg het ontstaan.”

Volgens Zwane het die verdagtes se motor teen ʼn ander motor gebots en omgeslaan. “Twee van die verdagtes is gewond en is op die toneel in hegtenis geneem. Die derde verdagte is noodlottig gewond en is op die toneel dood verklaar.”

Zwane het gesê daar is op ʼn 9 mm-pistool en toestelle wat gebruik word om by motors in te breek beslag gelê.

“Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, is onder polisiebewaking na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling. Hulle sal van poging tot moord, die besit van toerusting om by motors in te breek, roekelose en of nalatige bestuur die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla word.”

Zwane het gesê die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit met ander misdade verbind kan word.

Die verdagtes word verbind met minstens 20 gevalle van diefstal uit motors. Die verdagtes, tussen 35 en 45 jaar oud, sal binnekort in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

De-mur-in ·

Teen die tempo moet daar opsluit nog tronke gebou word ASB! Meer tronke as skole, lyk my dis al wat gaan werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.