1 dood, 5 beseer in verwoestende huisbrand

Argieffoto (pixabay.com)

Een man is dood en vyf ander beseer nadat ʼn brand Woensdag by ʼn huis in Rustenburg in Noordwes ontstaan het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het laat Woensdagaand in Hamiltonweg plaasgevind. “ER24 is omstreeks 22:00 deur ander nooddienste na die toneel ontbied om mediese bystand te bied,” het Meiring verduidelik.

Volgens Meiring was die verwoestende vlamme reeds deur brandbestryders geblus toe paramedici by die toneel opdaag. “Toe die brandweerbeamptes later deur die huis loop, het hulle ʼn man se liggaam in een van die kamers aangetref. Die man het ongelukkig reeds aan veelvuldige beserings beswyk,” het Meiring gesê.

Vyf ander mense is op die toneel behandel, waarvan twee pasiënte, ʼn man en ʼn vrou, beide in ʼn kritieke toestand was. “Hulle het brandwonde oor die grootste gedeelte van hul lywe opgedoen. Die drie ander pasiënte het matige brandwonde opgedoen.”

Volgens Meiring is een van die kritieke pasiënte per helikopter na ʼn privaat hospitaal in Johannesburg vervoer terwyl die vier ander per ambulans na nabygeleë hospitale gehaas is.

Die polisie sal die oorsaak van die brand ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.