1 dood, 7 vas ná Shoprite-gewapende roof

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Sewe mense is in hegtenis geneem in verband met ʼn gewapende roof Sondag by ʼn Sassa-welsynsbetalingspunt in ʼn Shoprite-winkel in Bishop Lavis in Kaapstad.

“Die mans het in ʼn wegkomvoertuig van die toneel gevlug,” het konstabel Lorencial Johnson, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, gesê. “Die polisie het die verdagtes agternagesit en die jaagtog het deur Ravensmead, Parow en Goodwood plaasgevind.”

Verskeie skote is tussen die polisie en die verdagtes gevuur. “Hulle het hul voertuig uiteindelik in Jan van Riebeeck-rylaan in Parow verlaat,” het Johnson bygevoeg.

Vier van die sewe persone wat in hegtenis geneem is, is tydens die skietery beseer. Hulle is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem. ʼn Agtste persoon is dood aangetref in die wegkomvoertuig.

“Die polisie het beslag gelê op vyf vuurwapens en ʼn onbekende hoeveelheid kontant wat vermoedelik uit die winkel gesteel is,” het Johnson gesê. “Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en die besit van onwettig vuurwapens en ammunisie. Die polisie sal ook ʼn geregtelike doodsondersoek doen.”

Die polisie probeer bepaal of nog mense by die voorval betrokke was. Die persone wat in hegtenis geneem is moet binnekort in die hof verskyn.

Sassa is die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.