1 dood, talle beseer toe boom op bussie val

Die boom wat op die bussie geval het. (Foto: ER24)

Een persoon is dood en nege ander beseer nadat ’n boom op ’n bussie met insittendes geval het. Twee van dié passasiers is kritiek beseer.

Die voorval het Woensdag omstreeks 06:00 in Isando, Ekurhuleni, plaasgevind.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê in ’n verklaring paramedici is net ná 06:00 na die toneel ontbied, waar hulle die bussie in die middel van die pad aangetref het. Die voertuig was onder ’n groot boom vasgekeer.

Volgens Meiring was drie mense in dié stadium voor in die bussie vasgekeer terwyl sewe ander reeds uitgeklim het. Dié insittendes het geringe tot matige beserings in die voorval opgedoen.

Die bestuurder van die bussie het egter geen teken van lewe getoon nie, terwyl twee ander mans in ’n kritieke toestand aangetref is.

Die boom wat op die bussie geval het. (Foto: ER24)

Reddingswerkers moes die boom noodgedwonge stuk-stuk van die bussie af lig voordat die mans sowat twee uur later uit die wrak bevry kon word. Die beseerdes is kort daarna na ’n hospitaal gehaas.

Daar was egter niks wat paramedici vir die bestuurder kon doen nie, sê Meiring.

Die toepaslike owerhede was vanoggend op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Wonder watse boom was die. Die papierbas doringboom is lief om dit te doen. Hulle staan net tussen 7 en 9 jaar en dan val hulle spontaan om.

Pieter ·

Dit lyk nie soos ‘n papierbasdoringboom nie, Leon. Bas te donker. Seker maar ‘n oordeelsboom wat in KZN voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.