1 dood, tientalle beseer toe bus, vragmotor bots

(Foto: ER24)

Een mens is dood en tientalle ander beseer toe ’n bus en ’n vragmotor Dinsdag in die vroeë oggendure op die N3 by Van Reenen op die Van Reenenspas in KwaZulu-Natal gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die wrakke van die voertuie is omstreeks 02:40 met paramedici se aankoms op die toneel in die middel van die pad aangetref.

Die bestuurder van die bus het verskeie noodlottige beserings in die botsing opgedoen en was in dié stadium steeds in die wrak van die bus vasgekeer. Die man is op die toneel dood verklaar.

Verskeie ander pasiënte het matige tot ernstige beserings in die voorval opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en pynmedikasie is toegedien waar nodig voordat die pasiënte na nabygeleë hospitale vervoer is vir mediese behandeling.

Die N3 was vanoggend aanvanklik ná die botsing vir ure gesluit, maar is intussen weer oopgestel vir motoriste. Die plaaslike owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.