1 uur, 10 sekondes: Kommer oor polisie se trae reaksietyd in Noord-Kaap

(Argieffoto)

Die DA in die Noord-Kaap is uiters bekommerd oor die polisie se reaksietyd in dié provinsie wat tans die stadigste in die hele land is – byna 25 minute stadiger as Noordwes, wat die naasslegste reaksietye in die land toon.

Maroela Media het vroeër berig Bheki Cele, minister van polisie, het verlede week in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA gesê dit neem die polisie in die Noord-Kaap gemiddeld ʼn uur en tien sekondes om te reageer op ʼn misdaad wat plaasvind.

Dr. Isak Fritz, die party se premierskandidaat in die provinsie, sê dit is angswekkend dat inwoners in die provinsie langer as ʼn uur aan hul eie genade oorgelaat word.

“Gegewe die ernstige gebrek aan operasionele voertuie wat by polisiestasies in die provinsie beskikbaar is, is die polisie se vertraagde reaksie op misdaad egter nie verbasend nie.”

Fritz sê inspeksies wat verlede jaar by verskeie polisiestasies gedoen is, het aan die lig gebring dat baie voertuie óf op bakstene by stasies staan, óf by die provinsiale motorhuis staan in afwagting vir onderdele van diensverskaffers uit ander provinsies.

“Dit is onaanvaarbaar dat die Noord-Kaap ʼn voertuigherstelkontrak met diensverskaffers in Johannesburg en Durban het – wat die herstelproses van hierdie voertuie drasties vertraag.”

Volgens Fritz is dit voorheen deur genl.maj. Koliswa Otola, die provinsiale polisiekommissaris, in ʼn vergadering met die DA se provinsiale woordvoerder vir vervoer, veiligheid en skakeling, Ofentse Mokae, bevestig.

“Met die derde kwartaallikse misdaadstatistieke wat ʼn styging in veral geweldsmisdade – soos poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om ernstig te beseer – openbaar, moet polisiëring dringend versterk word om die toename in misdaad voldoende aan te pak.

“Dit is van sleutelbelang dat die herstel van polisievoertuie gedesentraliseer word sodat die polisie onmiddellik op misdaad kan reageer, veral omdat die provinsie al hoe gevaarliker word namate misdadigers by die polisie se swakhede baat,” sê Fritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sandra ·

Totdat ‘n parlementslid moet inbel en vir hulp moet wag, kyk hoe spark hulle dan!

Wondermaarnet ·

Julle “worry” oor trade reageertyd? In die Swartland streek reageer hulle sommer GLADNIE.

Hans ·

Die belaglikheid van voertuie herstel in Gauteng en Natal, is te erg en dit moet ondersoek word. Êrens was daar korrupsie.
Kimberley het in verlede groot polisiemotorhawe gehad, wat het daarvan geword??? As daar nie tegniese personeel is nie, behoort Provinsiale kommissaris aangespreek te word oor swak beplanning.
In Kimberley is daar vir weke geen water in krane nie. Dis belaglik, as mens daaraan dink dat die Provinsiale wetgewer in Kimberley is.
Die paaie is in swak toestand, want daar is geen provinsiale paaie departement meer, wat funksioneer nie. Selfs GEEN provinsiale verkeersbeamptes meer nie.
Die hospitale is ook in swak toestand.
Die premier het met sy inhuldiging toespraak beweer hy sal byvoordele besnoei vir politieke amptenare, instede het alles verval onder hom in die provinsie.
Tyd vir verandering in die Noordkaap provinsie is nou!

Linx ·

N uur en Meer Vir Bravo klagtes maak so bietjie sin as dit alfa klagtes is is dit teleurstellend

Anel ·

Ek dink die meeste van die voertuigprobleme is dat die lede nie behoorlik kan bestuur nie. Vroëer, moes polisiemanne Benoni toe gegaan het vir ‘n bestuurskursus voor jy enigsins toegelaat was om staatsvoertuig te bestuur. En as jy die voertuig beskadig het, is jy daarvoor verantwoordelik gehou en van bestuur af gehaal. En jy is dan sommer op kantoordiens of wagdiens geplaas. So, jy het jou voertuig op gepas. Vandag, gee niemand om nie. Dis mos nie hulle voertuie nie. En as hy stukkend is dan hoef hulle nie klagtes by te woon nie. So baie voel ‘n veer, maar hulle kom in die polisie, bo iemand wat passievol is oor die werk!!!!

Hannelie ·

En wat leer ons hieruit: Moenie in die Noord-Kaap bly nie. Tyd vir verandering, nie net vir Noord-Kaap maar vir oral in die land.

Hennie ·

Boschkop polisie stasie het nie eens ‘n telefoon landlyn meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.