1 vas, 2 nog soek ná polisie ietermago red

Foto: Verskaf

Twee vermeende smokkelaars is nog op vrye voet nadat hulle die afgelope naweek met ʼn ietermago in hul besit betrap is.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê een verdagte is Vrydag in hegtenis geneem terwyl die polisie nog op die spoor van sy twee makkers is.

Volgens Ngoepe kom die inhegtenisneming nadat die polisie in Hoedspruit inligting ontvang het omtrent drie smokkelaars wat ’n ietermago by die Tonnel-plaza naby The Oaks probeer verkoop.

Die polisie het op dié wenk gereageer en ’n verdagte Polo Vivo-voertuig met drie insittendes opgemerk. Die polisie het die voertuig probeer voorkeer, maar die bestuurder het weggejaag. Beamptes het die voertuig agternagesit wat tot ’n hoëspoed-jaagtog gelei het.

Een van die passasiers in die motor het tydens die jaagtog ’n boks met die ietermago daarin by die venster van die voertuig uitgegooi.

Volgens Ngoepe is die Polo later verlate in die bosse by die Ga-Mametja-nedersetting gevind, waarna die een verdagte later vasgetrek is. Die 36-jarige verdagte sal binnekort in die rondgaande hof in Hoedspruit verskyn op aanklag van die besit van ’n beskermde spesie.

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor waar die ander twee verdagtes hulself bevind, om kol. Alpheus Mokale by 082 565 6524 te bel of om by die naaste polisiestasie aan te meld.

Die ietermago is ’n bedreigde spesie wat weens stropery aan die uitsterf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

D V ·

Enige iets waarmee skelms kan geld maak word nie uit gelos nie.

Casper Labuschagne ·

Sekerlik die eerste keer dat ek die woord ietermago teëkom alhoewel ek al ‘n paar keer ‘n ietermagog opgemerk het.

ek sê maar ·

Die mees gestroopte dier ter wêreld. So oulike dier. Siek spul – hoop hul word gevang en kom nie weer weg met ‘n tikkie oor die vingers nie

Linda van Mosselbaai ·

EK is al 62 jaar oud en het nog nooit een gesien nie – net op prentjies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.