10 000 vee ingeënt ná bek-en-klouseer uitbreek

Argieffoto

Sowat 10 000 vee is ná afloop van die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Vhembe, Limpopo, ingeënt.

Senzeni Zodwana, minister van landbou, bosbou en vissery, het Maandag bevestig dat vier spesifieke landelike gebiede in Limpopo, binne ʼn radius van 20 km van mekaar, veral onder dié siekte deurloop. In dié gebied alleen is daar glo sowat 15 000 beeste waarvan 4 500 binne die beheergebied van bek-en-klouseer wei.

Dít volg nadat die departement in Januarie bekendgemaak het dat bek-en-klouseer in die distrik Vhembe in Limpopo voorkom. Dit kon bevestig word nadat gevalle by die staatsveeartse aangemeld is, wat beeste in die gebied getoets het.

Maatreëls is gevolglik ingestel om die siekte so gou moontlik in die kiem te smoor.

“ʼn Bestuursgebied is sedertdien verklaar, naamlik die gebied rondom paaie soos die R81, R36, N1 asook R524-paaie. Die presiese grense van hierdie gebied sal in die regeringskoerant gepubliseer word,” het Zodwana gesê.

Geen gekloofde hoefdiere mag gevolglik binne, buite of om dié gebied wei nie.

“Daar is ʼn volledige stilstand rakende gekloofde hoefdiere verklaar. Bewegingspermitte wat voorheen vir hierdie doel uitgereik is, is gevolglik onttrek. Produkte van dié diere mag binne die gebied vervoer word, maar beweging buite die gebied sal op meriete oorweeg word. Dit sal slegs toegelaat word met permitte wat deur ʼn plaaslike staatsveearts uitgereik is en ooreenstem met voorwaardes,” het die minister gesê.

Suid-Afrika is sedertdien sy status as bek-en-klouseervrye sone kwyt ná die uitbreek in Limpopo se Vhembe-distrik.

Dit beteken dat sekere lande, onder meer Botswana, ʼn onmiddellike verbod geplaas het op die invoer van gekloofde hoefdiere en produkte van dié diere uit Suid-Afrika.

Zodwana het beklemtoon dat dit ʼn verwoestende uitwerking op handel vir Suid-Afrikaanse produsente het. Hy het dus ʼn versoek aan handelsvennote gerig om die voortgesette handel in veilige produkte te oorweeg.

“Waarborge is voorsien vir produkte wat nié die risiko van die oordrag van bek-en-klouseer inhou nie, soos hittebehandelde vleis en suiwelprodukte, ontbeende en verouderde beesvleis, geskeerde wol, gesoute huide en velle, lewende embrio’s asook varkprodukte uit MKV-vrye varkkompartemente.

“Die handel in veilige kommoditeite aan naburige lande gerig, is grootliks aanvaar en onderhandelinge waar nodig is aangegaan oor nuwe gesondheidsertifikate. Daar is ook goeie vordering gemaak wat onderhandelinge met markte vir ontbeende beesvleis, verwerkte suiwelprodukte, verwerkte huide en velle na ander Afrikalande, die Midde-Ooste asook die Verre Ooste betref.”

Zodwana het bygevoeg ʼn gesamentlike operasionele span vergader daagliks om die situasie te monitor. Sowat 15 padblokkades is rondom die aangetaste gebied ingestel om die beweging van gekloofde hoefdiere te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Norman ·

Die woord gekloofde hoefdier is vir my vreemd, die algemene term is “gesplete hoef”

Thinus Erasmus ·

Dit is jammer dat die departement nie die maatreels permanent toepas soos dit hoort nie.
En dit is net so jammeer dat MM red. my steeds snoer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.