10 in hof oor taxigeweld in Limpopo

Argieffoto

Tien persone, tussen 26 en 44 jaar oud, het Maandag in die Hoedspruit-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

Die 10 beskuldigdes se aansoek om borgtog is afgekeur en hulle moet weer op 6 Februarie in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings volg ná ʼn skietery omstreeks 13:00 op 25 Janauarie. “Veiligheidsvoertuie, wat een van die taxiverenigings gehuur het om hul taxi’s te begelei, is deur ʼn groep mense, vermoedelik van ʼn ander taxivereniging, weggejaag. Die personeellede van die veiligheidsmaatskappy het reageer en op die taxi’s begin skiet,” het Ngoepe verduidelik.

Drie mans is geskiet en het ernstige beserings opgedoen. Drie Toyota Quantums van die plaaslike taxivereniging is beskadig.

“Die polisie is ontbied en het dadelik reageer saam met lede van die reaksie-eenheid. Tien verdagtes is ná ʼn jaagtog in hegtenis geneem.”

Die verdagtes is soos volg geïdentifiseer: Victor Marebane (37), Skhumbuzo Nxobo (26), Phumulani Dlamini (28), Mbuyiseni Ndabandaba (30), Nduniso Zulu (29), Peter Matshaba (39), Harry Matshego (42), Jonas Seabela (36), Oliver Shai (32) en Samuel Lesele (44).

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Irma ·

Onse minister moes dalk eers iewers gaan sit het en mooi nagedink het oor die skrywe direk aan die president. Om so ‘n kabaal.op te skop sê in my oë eintlik meer oor die vertroue wat die buiteland in onse minister het as wat dit van hulle on-diplomatieke optrede sê. Interressant !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.