10-jarige ‘sal nog weke lank’ in hospitaal wees

Divenette Streicher (Foto: Facebook)

Die 10-jarige Divenette Streicher van Pretoria, wat al weke lank om haar lewe in ʼn hospitaal veg, sal waarskynlik nog weke lank behandel moet word voordat sy enige verbetering sal kan toon.

Minette Streicher, Divenette se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Divenette was Maandag weer teater toe om vog van haar ingewande te dreineer.

“Die probleem was meestal in haar linkerlong, maar hulle kon dit darem mooi dreineer. En dank die Here die vog wat hulle dreineer het was skoon vog,” het Minette gesê. “Die twee absesse in haar buik was ook vol vog gewees, en hulle kon dit óók dreineer. Haar wond is ook weer skoongemaak en daar is ’n spesiale masjiene op haar sodat die wond dreineer word.”

“Divenette is ook op die oomblik op ’n ventilator om haar longe aan te help, maar die dokters wil haar so gou moontlik daarvan af kry sodat haar longe nie te veel verswak nie.”

Maroela Media het vroeër berig Divenette is sowat sewe weke gelede gediagnoseer met nierpypontsteking en blaasinfeksie. Daar is vir haar antibiotika voorgeskryf, maar haar toestand het by die dag versleg en sy is uiteindelik in die Steve Biko-hospitaal opgeneem, omdat die gesin nie ʼn mediese fonds het nie.

Divenette se blindederm is verwyder, maar dokters het vasgestel dat ʼn bakterie in haar ingewande ook begin het om haar dik- en dunderm aan te tas. ʼn Gedeelte van haar dikderm is verwyder, maar Divenette het al meer pyn ervaar en haar toestand het nie verbeter nie.

Volgens Minette kon die dokters by Steve Biko-hospitaal nie bepaal wat met Divenette fout is nie en is daar inderhaas fondse ingesamel om vir haar oorplasing na Mediclinic Kloof te betaal.

Divenette is Vrydag vanaf die Steve Biko- akademiese hospitaal na Mediclinic Kloof in Pretoria oorgeplaas. Volgens Minette is Divenette tans in die hoësorgeenheid van dié hospitaal en is sy in isolasie geplaas.

“Ons was baie bly dat alles so glad verloop het met die dreinering van die vog, maar ons was ook baie hartseer, want haar buik het nou in ’n sogenaamde ‘vries-toestand’ in gegaan. Dit beteken dat hulle glad nie daaraan kan werk voordat dit ‘ontvries’ nie. Die derm is so dun en so inmekaargetrek dat dit moeilik en te gevaarlik is om daaraan te werk.  Ons moet nou net wag vir die buik om te ‘ontvries’,” het sy gesê.

“Die dokter het gesê die wagtydperk kan so lank soos twee maande, en selfs langer as dit vat. Ons is hartseer dat ons moet wag, maar ons is verlig dat sy in goeie hande is. Al wat ons nou kan doen is bid dat haar buik vinnig ontvries, sodat die proses kan voortgaan,” het Minette gesê.

Minette het ook gesê dat fondse steeds baie beperk is, en vir mense gevra om aan te hou help.

Sy sê weldoeners het genoeg geld geskenk om vir Divenette se eerste paar dae in Kloof-hospitaal te betaal, maar daar lê nog weke lange hospitaalbehandeling en groot mediese rekeninge vir die gesin voor. “Ons is ongelooflik verlig dat sy nou in Kloof-hospitaal behandel kan word, maar ons kort nog baie fondse. Daar is ʼn klomp organisasies wat ons bystaan met fondsinsamelings en baie mense wat ons alreeds gehelp het.”

Vir meer inligting oor Divenette se stryd of om by te dra, besoek die Facebook-blad Divenette Streicher Brave Little warrior of God.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kalahari ·

Sterkte aan Divenette tot spoedige herstel en ons bid vir jou en familie. Baie sterkte ook aan al die ander families en vriende wat saam haar deur hierdie tyd die pad tot herstel stap. Glo en behou Geloof in die Hand en werke van God. Ook ‘n groot dank aan al die Dokters en Verpleeg Personeel vir al jul omgee en bystand vir Divenette.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.