10-jarige sterf toe hy in mielies vassit

Bennie Bezuidenhout (10) wat dood is nadat hy in 'n oortapwa vol mielies beland het (Foto verskaf aan Maroela Media)

Bennie Bezuidenhout (10) wat dood is nadat hy in ‘n oortapwa vol mielies beland het (Foto verskaf aan Maroela Media)

Bennie Bezuidenhout (10), die jongste seun van Ben en Jeanet van die plaas Sterkloop in die Stoffberg-distrik, word Woensdag begrawe nadat hy in ʼn oortapwa vol mielies beland het.

“Bennie het verlede week Dinsdag omstreeks 13:45 ongesiens op die wa geklim waar werkers op die werf besig was om mielies oor te tap,” het Jeanet aan Maroela Media gesê. “Hy het vermoedelik gegly en die mielies wat deur ʼn sluis uitgeloop het, het hom na onder getrek en sy voetjie het in die proses in die sluis vasgehaak.”

Die werkers het besef dat die mielies nie meer uitloop nie, en het ondersoek ingestel. “Hulle kon sy voetjie sien uitsteek by die sluis. Hulle het hom probeer uittrek, maar sy voet het skuinsgedraai en vasgehaak.” Die mielies was moontlik egter te glad vir Bennie om behoorlik vastrapplek te kry toe hy gegly het.

Een van die werkers het intussen na die huis gehardloop waar Ben sr. met landbouagente vergader het. “Ben het die wa so vinnig as moontlik omgestoot met ʼn TLB en onmiddellik mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering toegepas,” het Jeanet verduidelik. Dit was reeds te laat om hom by te bring.

“Dis vir enige plaaskind ʼn groot plesier om in die mielies te speel, en mens besef nie hoe gevaarlik dit kan wees nie,” het sy gesê. “Dit het só vinnig gebeur. As hierdie voorval as ʼn waarskuwing aan ander ouers kan dien, dan het my seun nie verniet gesterf nie.” Jeanet maan ouers om baie versigtig te wees wanneer hulle kinders op die plaas in die mielies speel.

Bennie laat sy ouers, sy ouboet Renier (12), en oumas San Erasmus en Marietjie Bezuidenhout na. “Ons het tuisskoolonderrig aangebied deur Impak, so ons het alles saam gedoen,” het Jeanet gesê. “Sy plek is leeg.”

Bennie word Woensdag deur ds. Nico Swart uit die APK Belfast in Mpumalanga begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

tina ·

Woorde kan nie beskryf hoe verskriklik jammer ek vir jul voel. My innige simpatie. Mag die liewe Heer jul in hierdie tyd van jul hartseer en verlies, so styf vashou,sterk en vertroos.

Peet Schabort ·

Ai, Bennie se mense, sterkte aan julle.
Jeanet, watter waar woorde van jou dat dit vir ander ‘n les moet wees om uiters versigtig te wees. Duidelik was hierdie ‘n ongeluk wat net gewag het om te gebeur. Die mielies werk dan ook soos dryfsand ?
As dorpskind was dit altyd ‘n groot plesier tussen die mielieblare en om in plaasdamme en waterkuile te swem.
My pa het altyd gemaan om versigtig te wees vir waterkuile waarvan die vorm en diepte verander na ‘n spruit in vloed was. Daar kan ook lyndrade se doringdraad onder die oppervlakte van die water wees en jy kan goedsmoeds verdrink as jy induik en jy raak verstrengel daarin onder die water. Hoeveel gevalle is daar ook waar iemand teen ‘n sandbank sy/haar nek gebreek het. Stel altyd eers ondersoek in en raak dan wild met jou truuks.

Sarie Botha ·

So in my hart jammer vir julle verlies! Mag ons liewe Vader julle vertroos en bemoedig en met Sy groot liefde en vrede vul!

CHRISTA ·

My innige simpatie aan Bennie se ouers en famillie. Mag die liewe HERE iulle troos en in sy liefde toevou. Hy sal julle deur hierdie hartseer dra en bystaan.

Philiza ·

My innige simpatie, dis nie maklik om n kind aan die dood af te staan nie ek is self al da deur en dis al 12 jaar terug en verlang nog baie na my meisiekind daar kom dae wat mens net nie altyd kan verstaan Hoekom dit met jou moes gebeur het maar dan aan die ander kant die Here het n doel met als in die lewe van ons. Sterkte vir julle gesin voorentoe.

N ·

Ek het self `n jong kind verloor. Familie en vriende, gee al jul ondersteuning, daai mense het dit nou meer nodig as ooit.

JB ·

Vir my as plaaskind was dit een v die lekkerste plekke om te speel!! Baie sterkte vd familie. God het n plan met elkeen v ons!!

Anoniem ·

Vader sal julle lei deur die tragedie. Gelukkig sal ons eendag alles verstaan.

Eliza-beth ·

Regtig ‘n fratsongeluk en ek onthou ook HOE heerlik ons as kinders so gespeel het – ten spyte van ouers se waarskuwings. Altyd skelm weggeglip en dan gaan jol het in die mielies op die waens. Net ‘n genade dat ons nie een iets oorgekom het nie. Baie sterkte aan die ouers – dit kan met enigeen gebeur en moet hul nie hulself verwyt nie.

susan ·

Ai dis so sad. Sterkte aan Bennie se familie. Ek bid God se liefde en genade oor jul in die tyd van rou. Droog U hul trane en troos hul asb. liewe Heer. Sterkte Susan.

Marnus ·

Hoeveel keer het ons nie as kinders presies so in die mielies gespeel nie? Maar genade van bo dat ons nie ingeval het nie. My hart is baie seer vir hierdie familie.

Edna Botha ·

So verskriklik jammer oor julle verlies. Troos julle daaraan dat God sy engeltjie nodig het vir beter dinge. Julle is in ons gebede. Rus in Vrede Groot Man.

Christo du Toit ·

Hoeveel van ons het nie net onskuldig gaan speel maar skuldig daaruit gekom!?Dis tragies en Ben en sy gesin is in ons gebede.Vestig julle hartseer en hoop vorentoe op Hom.Alle sterkte julle.

Ynanda & Marius Cloete ·

Wil net sê baie sterkte ons bid vir julle en gaan definitief daai glimlaggie mis as ons kom om die perde se hoewe te trim. Sterkte dink so baie aan julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.