10-jarige veg steeds om lewe in Pta-hospitaal

Divenette Streicher (Foto: Facebook)

Die 10-jarige Divenette Streicher van Pretoria, wat al meer as sewe weke lank om haar lewe in ʼn hospitaal veg, is steeds nie buite gevaar nie, ten spyte daarvan dat sy nou in ʼn private hospitaal behandel word.

Minnette Streicher, Divenette se ma, het Sondag aan Maroela Media gesê Divenette is Vrydag vanaf die Steve Biko- akademiese hospitaal na Mediclinic Kloof in Pretoria oorgeplaas. Volgens Minnette is Divenette tans in die hoësorgeenheid van dié hospitaal en is sy in isolasie geplaas.

“Sy moet eintlik in die pediatriese waakeenheid behandel word, maar omdat sy so vinnig oorgeplaas is, was daar nie onmiddellik plek nie. Daarom is sy vir eers in die hoësorgeenheid,” het Minnette gesê.

Maroela Media het vroeër berig Divenette is sowat sewe weke gelede gediagnoseer met nierpypontsteking en blaasinfeksie. Daar is vir haar antibiotika voorgeskryf, maar haar toestand het by die dag versleg en sy is uiteindelik in die Steve Biko-hospitaal opgeneem, omdat die gesin nie ʼn mediese fonds het nie.

Divenette se blindederm is verwyder, maar dokters het vasgestel dat ʼn bakterie in haar ingewande ook begin het om haar dik- en dunderm aan te tas. ʼn Gedeelte van haar dikderm is verwyder, maar Divenette het al meer pyn ervaar en haar toestand het nie verbeter nie.

Volgens Minnette kon die dokters by Steve Biko-hospitaal nie bepaal wat met Divenette fout is nie en is daar inderhaas fondse ingesamel om vir haar oorplasing na Mediclinic Kloof te betaal.

“Die dokters by Kloof het nou klomp skanderings en toetse gedoen en ons sal vanmiddag met die dokter praat oor die uitslae van dié toetse om te hoor wat presies fout is en wat die pad vorentoe is,” sê Minnette. “Ons vermoed dat die groot probleem by haar dunderm is, maar ons kan nog nie presies sê wat fout is nie. Hulle het haar pyn nou mooi onder beheer, maar sy is nog nie uit lewensgevaar nie.”

Divenette slaap in die stadium baie, maar is met tye wakker om met haar ouers te praat. “Met haar aankoms by Kloof-hospitaal het hulle onmiddellik haar medikasie aangepas om te probeer om haar sterker te kry, omdat hulle haar dalk môre teater toe wil vat. Haar kleur is reeds beter; haar vel is nie meer so grys-wit nie. Maar sy is baie swak,” het Minnette gesê.

Sy sê dokters meen Divenette sal moontlik tot drie maande in die hospitaal moet bly voor sy genoeg sal herstel het om ontslaan te word. “Die susters het gister vir ons gesê ons mag nie ophou bid nie. Mense moet asseblief nie ophou bid nie. Ons het elke gebed nodig. My kind is regtig baie siek.”

Sy sê weldoeners het genoeg geld geskenk om vir Divenette se eerste paar dae in Kloof-hospitaal te betaal, maar daar lê nog weke lange hospitaalbehandeling en groot mediese rekeninge vir die gesin voor. “Ons is ongelooflik verlig dat sy nou in Kloof-hospitaal behandel kan word, maar ons kort nog baie fondse. Daar is ʼn klomp organisasies wat ons bystaan met fondsinsamelings en baie mense wat ons alreeds gehelp het. Ons is so dankbaar vir elke persoon wat ons help en reeds gehelp het. Ons kan net dankie sê.”

Vir meer inligting oor Divenette se stryd of om by te dra, besoek die Facebook-blad Divenette Streicher Brave Little warrior of God.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

HPV ·

Dankbaar sy is beter! Bid vir volkome herstel!
Die privaat hospitale asook sekere privaat dokters se koste is egter buite beheer, totaal belaglik om die minste te sê. Ons word afgepers omdat die staatshospitale tot letterlik geen dienslewering verval het. Vergelyk alle kostes, daar is baie ander goeie dokters asook ‘n ander privaat hospitaal wat teen beter en meer aanvaarbare tariewe werk. Ek kom pas uit so ‘n hospitaal en is deur sulke dokters behandel. Die diens was puik.

Lolla ·

Aai mamma en pappa staan sterk. Ons bid saam. As jy nie iets wat Dr. se verstaan nie, VRA vrae tot jy verstaan. My agt maande baba het binne vyf ure so siek geword dat ek my eie kind nie herken het nie. By Mulbarton pvt hospitaal se noodgevalle, stuur n Dr. haar huis toe met n “lelikke” verkoue. Nou hierdie parmantigge mamma, verstaan toe nie, en ek verduidelik dat ek al baie “lelikke” verkoues gehad het, maar nog nooit met gesinkte oe, diaree, gedihidreer, braking so n verkoue gehad het of so gelyk het nie…. Die Dr. vererg hom toe vir my, en se “as jy geld het om te spandeer, kom ons spandeer dit! Wat wil jy eerste doen?”. N stemmetjie in my skreeu na Dr. uit, “kom ons neem x-trale van haar bors!”.
Normaalweg sal mens seker vra vir bloed of uriene toetse. Toe haar x-trale terug kom en Dr. het skaars die blaai behoorlik teen die lig, skreeu hy vir susters om die kind dadellik op te neem en op n drip te kry. Toe het sy die dodelikke RS virus! Sy sou nie die volgende son sien opkom het nie.

Maddy ·

Jemma, uit die mamma se hele verhaal is die spelling al waaroor jy iets te sê het??
As jy dus ň onderwyser is, gaan merk eerder boeke waar dit nodig is.

Lolla ·

Jemma asb bid eerder saam toe?! Daar is n kindjie wat in moeilikheid is en n mamma en pappa wat gedaan van bekommernis is. Laat dit eerder by jou saak maak?

Nicole ·

Ai Jemma, dit is darm maar baie onnodig. Hoop jy voel nou beter oor jouself.

Hanna ·

Ek het self in staatshospitale verpleeg en glo my, min simpatie met blankes oor die algemeen. Veral ons oumense kry swaar. As jy moet kies tussen n beter blyplek of n mediese fonds (selfs net n hospitaalplan) moenie twee keer dink nie. Niemand verdien om in n staatshospitaal te beland nie!

Valerie ·

Hannah, die Greys hospitaal in Pietermaritzburg was in ‘n stadium top klas. Sowat 10 jaar gelede was ek daar om iemand te besoek en moes oor ontlasting trap om by ‘n wasbak uit te kom. Ek wil nie weet hoe dit nou daar lyk nie. Is daar nie meer trots in die uiterste belangrike werk nie? Volgens ‘n onlangse berig, is daar net twee onkologiese spesialiste in die hele KZN wat by staatshospitale werk.
Hoop die Divenette meisie trek deur daar waar sy nou is.

Spikkels ·

JENNA is jy die spel- speurder-guru-aanklaer.!!!! Die kind is baie siek en ouers bekommerd en vra ons moet bid en jy worry oor spel van woorde???? Gaan sien asb iemand want daar is fout met jou menslikheid.

Marita ·

My dogter is tans in n staatshospitaal in Eersterivier Weskaap. Die hospitaal is skoon, personeel is vriendelik en behulpsaam. Kos is heerlik. Sy is die enigste wit pasient daar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.