10-jarige verloor 22 kg ná maande in hospitaal

Divenette Streicher (Foto: Facebook)

Die 10-jarige Divenette Streicher van Pretoria wat al vier maande lank om haar lewe in ’n hospitaal veg, volg nou ʼn spesiale dieet nadat sy 22 kg verloor het weens haar toestand.

Die dokters hoop dat haar nuwe dieet sal help met haar herstel. Minette Streicher, Divenette se ma, het gesê dit gaan in die omstandighede goed met haar dogter, maar ʼn tyd om huis toe te gaan is steeds nie in sig nie.

“Haar gemoedstoestand is goed, sy stap al sterker en haar asemhaling is beter, haar ingewande is nog steeds gevries en haar derm lek ook nog. Sy kan nog nie by trappe opstap nie; sy is nog swak, maar raak elke dag ʼn bietjie sterker,” het Streicher gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat daar gal is wat deur Divenette se derm in die wond lek, wat ʼn risiko vir infeksie is. Haar buik is ook gevries, dus kan dokters glad nie aan haar derms werk nie. Die gesin wag al maande vir haar buik om as’t ware te ontvries sodat dokters kan opereer.

Divenette is al vir 4 maande in die hospitaal (Foto: Verskaf)

“Die dokters was eintlik verras oor hoeveel kleiner haar wond geraak het in ʼn kort tydjie. Hulle wil dit nou begin toemaak. Haar buik wat gevries is en haar derms wat lek, maak net die situasie ʼn bietjie moeiliker. Haar derms lek sowat vier liter vloeistof elke dag,” het Streicher gesê.

Minette het gesê Divenette volg nou ʼn streng dieet. Sy mag net sekere goed eet en drink en alles moet sag en fyn wees.

“Dit is nou presies vier maande dat Divenette in die hospitaal is, en sy het 22 kg verloor. As dit nie vir haar lengte was nie, was dié gewig te veel vir haar om te verloor. Die dokters wil hê sy moet bietjie gewig begin aansit, so hopelik sal haar liggaam die voeding opneem wat sy nou inneem. As dit suksesvol is, kan sy dalk verder by die huis gaan aansterk, dan hoef sy nie meer in die hospitaal te wees nie,” het Streicher gesê.

Daar is nog baie mediese koste om te dek, al sal Divenette moontlik by die huis kan aansterk. Streicher het  ʼn konsert met Jo Black gereël ten bate van Divenette se mediese koste.

“Jo doen dit vir ons verniet, al die geld gaan net so vir Divenette se mediese uitgawes. Daar is soveel skanderings, hospitaalgeld en operasies waarvoor ons nog moet betaal,” het sy gesê.

“Ons het regtig die geld nodig om aan te hou met Divenette se noodsaaklike behandeling. As ons dit nie het nie, is daar nie meer hoop vir ons kind nie.”

Vir meer inligting oor die konsert of vir skenkings, besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Snuffels ·

Sterk wees pragtige kind…ons gebede is saam julle! Awesome Jo, hoop daar kom baie ondersteuning.

Vernon Fourie ·

Moet jy die kru woord “derms” gebruik? Sekerlik is “ingewande” ‘n beter keuse?

Mrs H ·

Ingewande is baie organe. Die spesifieke probleem hier is “derms” onder andere organe wat in die buik voorkom, en dis seker net jy wat dink wat jy dink. Niks snaaks of lellik of kru nie.

Mag jy gou gesond word lieffie kind. Vier maande is n lang tyd, en iewers sal dit ook einde kry. Ons dink aan jou en bid baie vir jou. Hou moed en druk deur xxx. Dankie Jo, jy’s n gestuurde!

AnnA ·

Maria, sê jy! Om nou wraggies te kla oor ‘n korrekte Afrikaanse woord. Soek seker net iets om oor te kerm.

LVH ·

Traumatiese ervaring vir so ‘n jong kind. Wens haar spoedige herstel toe

Hanna Hoekom ·

Ek sidder om te dink wat van hierdie arme kind in daai staatshospitaal sou word… Sterkte, Meisiekind! Jy het reeds so baie deurgemaak.

Pikkewyn ·

Sterk wees!Ons hou vi julle duim vas vir n algehele herstel.Jy is n sterk meisie Divenette.
Jo jy is awesome om haar te help-baie danki.Weet di konsert sal goeie fondse insamel.

Sharon ·

Hierdie storie breek my hart.
Ek bid vir jou liewe Divenette. Ek bid vir ‘n wonderwerk en dat jy weer eendag mooi gesond sal wees en ‘n normale lewe kan lei. Ek bid dat jy gou weer kan huis toe gaan.

Driekie ·

Dit breek my hart . Ons bid vir jou pragtige en dapper meisie. God kan genees en Hy sal… Jy en jou familie moet aanhou bid en glo en ons almal glo en bid saam met julle. God die Vader is ons Skepper en ook ons Geneesheer.

Anli ·

Al my liefde Divinette! Jy is n fighter! Baie liefde vir j en almal b jxxxx. Ek bid vir j xxxx

Liezl ·

Vader ek vra in die Naam van Jesus dat elke sel in Divinette se liggaam deur U genesing herstel sal word en haar dun en dikderm sal ontvries en terugkeer na completeness soos U haar geskep het. Ek bid jou gees, siel en liggaam toegevou in die Bloed v Jesus Christus van Nazareth! Vader genees haar van alle skok en trauma asb. U Genade is vir Divinette genoeg. ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.