10 moorde binne 5 dae in Welkom

Argieffoto

Argieffoto

Tien mense is sedert Vrydag in afsonderlike voorvalle in Welkom in die Vrystaat vermoor.

Ao. Malebo Khosana, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en brandstigting.

Die volgende voorvalle het in Bronville plaasgevind:

ʼn 24-jarige man het ʼn aanval oorleef waar hy met pangas gekap en met messe gesteek is nadat hy glo Vrydag lukraak begin skiet het. “Gelukkig is niemand tydens die skietery gewond nie,” het Khosana gesê. “ʼn Groep inwoners het gewag totdat hy al die rondes in sy pistool gevuur het, waarna hulle op hom toegesak het.” Hy is in ʼn ernstige toestand met veelvoudige wonde na ʼn hospitaal geneem.

Dieselfde aand het van die inwoners ook ʼn 22-jarige man aangeval wat glo by ʼn moord betrokke was. Hy is ook met pangas aangeval en gesteek. Hy is dood in ʼn huis waarheen hy gevlug het.

ʼn 18-jarige man het Sondag glo ʼn 22-jarige man tydens ʼn stryery met ʼn mes doodgesteek terwyl hulle alkohol gedrink het.

ʼn Groep mense het Sondag die huis van ʼn 31-jarige man betree en hom met messe doodgesteek. Die rede vir dié aanval is nie bekend nie.

ʼn Groep van ongeveer 20 mense is Maandag na ʼn 24-jarige man se plakkershuis waar hulle hom vermoor en sy huis aan die brand gesteek het.

ʼn 30-jarige man is Maandag in ʼn soortgelyke voorval in ʼn ander gebied vermoor.

Die liggaam van ʼn 24-jarige man wat geskiet is, is Dinsdag opgespoor.

Die volgende voorvalle het in Thabong plaasgevind:

Die liggaam van ʼn 25-jarige man is Vrydag met veelvoudige steekwonde gevind.

Die liggaam van ʼn 25-jarige man is Saterdag opgespoor. Hy is geskiet. “ʼn Verdagte is in verband met die voorval in hegtenis geneem en het Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn.”

Nóg ʼn man se liggaam is Saterdag met steekwonde aangetref. Die 24-jarige slagoffer het glo naby ʼn kroeg in ʼn motor gesit en wag, toe ʼn ander man hom nader en die sleutels uit die aansluiter gegryp het. “Die slagoffer het hom agtervolg om die sleutels terug te kry. Die man wat die sleutels gevat het, het ʼn mes uitgepluk en hom in sy nek en kop gesteek.” ʼn 21-jarige verdagte is in verband met dié moord in hegtenis geneem.

ʼn 32-jarige man is Sondag tydens ʼn stryery met twee onbekende mans by ʼn kroeg in die gebied vermoor.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paplepel ·

Maak dit enigsins saak? Is die een kleur lewe meer werd as die ander?

Elizabeth ·

Beloftes is gemaak van werk en behuising ens. Dis nie nagekom nie. Die gevolg: te veel werkloses wat geen hoop het en die frustrasies agv daarvan loop hoog en ly tot die tipe van ding. Lê dit maar weer voor die ANC se deur.

Drieks ·

Ons het die wreedste mense in Afrika hier by ons in Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.