10 op skip het koronavirus

Die Diamond Princess. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Minstens tien mense aan boord van ’n skip wat reeds dae lank in ’n hawe in Jokohama in Japan vasgemeer is, het intussen positief getoets vir die gevreesde koronavirus.

Die BBC berig sowat 300 van die Diamond Princess se 3 700 passasiers is reeds getoets nadat ’n 80-jarige man van Hongkong, wat verlede maand op die vaartuig was, die virus opgedoen het.

Die man is op 20 Januarie aan boord waarna hy op 25 Januarie in Hongkong aan land gegaan het. Hy het eers later uitgevind dat hy positief vir die virus getoets het.

Luidens inligting is al tien bevestigde gevalle op die skip bó die ouderdom van 50 jaar. Twee van dié pasiënte is Japannees. Nie een van die pasiënte is egter in ’n ernstige toestand nie.

Daar is in China tans ongeveer 24 300 gevalle van die virus met die dodetal wat tans op 490 staan. Dié dodetal het in ’n enkele dag met 65 toegeneem. Twee van dié sterftes is buite China aangemeld, waar die virus vir die eerste keer in Wuhan uitgebreek het.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Tatan Syuflana, AP)

Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid het Woensdag bevestig daar is nog geen gevalle in Suid-Afrika aangemeld nie.

Die departement het in sy jongste verklaring gerugte dat die virus in die Wes-Kaap kop uit gesteek het, in die kiem gesmoor.

Luidens die verklaring het die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) reeds 71 monsters van lande reg oor Afrika gekry. Nie een van die monsters het positief vir die virus getoets nie.

Volgens die departement is daar tans ook nog geen aanduiding om reis of handel met China te beperk nie. Voornemende reisigers word wel aangeraai om nie onnodig na dié land te reis nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Die gesondheidsorg in die algemeen, by seker die meeste staatshospitale en -klinieke is so swak dat mense reeds nie eers die moeite doen om soontoe te gaan nie (maak nie saak hoe siek hulle is nie). Dit is behalwe om (wanneer daar hopelik nog is) medikasie te gaan afhaak, Jy doen ook heel party keer erger virusse in die staatshospitaal (en -klinieke) op as dit waarvoor jy oorspronklik opgeneem is (veral in die platteland).

Ek is seker dat dit eers op die regering se radar gaan registreer wanneer, soos met listeriose, daar etlike honderde mense tragies daaraan sterf.

Mieke ·

Sjoe! Ek wil liewer nie op daardie skip wees nie!! Kan jy dink hoe groot die moontlikheid is vir verspreiding van die virus na die passasiers!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.