10 partye vra Ramaphosa om nie Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake te onderteken

(Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Tien opposisiepartye met verteenwoordiging in die parlement het die president gepetisioneer om nie die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake te onderteken nie, omdat dit volgens hulle ongrondwetlik is.

Sou pres. Cyril Ramaphosa die wysigingswetsontwerp onderteken, sal hulle gedwing wees om by die burgerlike samelewing, wat reeds kennis gegee het van hul voorneme om die howe oor die saak te nader, aan te sluit om die wetgewing op grond van ongrondwetlikheid teen te staan.

Die partye is die ACDP, ATM, Cope, DA, VF Plus, GOOD, IVP, NFP, PAC en UDM.

Die wetsontwerp was nodig om veranderinge aan wetgewing oor verkiesings te doen en maak dit onder meer moontlik vir onafhanklike kandidate om aan die nasionale en provinsiale verkiesing deel te neem.

“Die wetsontwerp is haastig in die Nasionale Vergadering aanvaar en toe verlede week deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP). Dit sluit in betwiste en noemenswaardige veranderings aan die Wet op die Befondsing van Politieke Partye, wat nie nodig was vir die insluiting van onafhanklike kandidate nie,” lui ʼn gesamentlike verklaring van die partye.

Die wysigingswet, wat in Desember ter tafel gelê is, is verlede maand met 240 stemme teenoor 90 in die Nasionale Vergadering goedgekeur. Opposisiepartye het egter gesê dat die wysigingswet die finansieringsformule sal verander waarvolgens openbare politieke befondsing versprei word. Die ANC stel met die wysigingswet voor dat die befondsingsformule van 66% proporsioneel en 33% billik na ʼn 90% – 10% verander.

Die nuwe formule sal byvoorbeeld beteken dat ʼn bykomende R50 miljoen in die volgende jaar alleen na die ANC gaan terwyl kleiner partye se inkomste drasties verminder word. Aangesien onafhanklike verteenwoordigers tot een setel beperk is, sal hul toekenning meer as gehalveer word.

Die Grondwet vereis dat verteenwoordigde politieke partye openbare finansiering op ʼn “billike en proporsionele grondslag” ontvang om die veelparty-demokrasie te bevorder.

Die opposisiepartye sê die ANC het egter die behoefte aan verandering opportunisties gebruik om sy finansiering, op grond van huidige verteenwoordiging, beduidend te verhoog.

“Dit word behaal ten koste van al die opposisiepartye, behalwe die DA, wat ook ʼn 10%-verhoging in openbare befondsing sal kry. Ondanks die voordeel van ʼn voorgestelde verhoging, sluit die DA by ons aan om die wetsontwerp se grondwetlikheid te betwis,” lui die verklaring.

“Ons het dit aan die president gestel dat dit nie veelparty-demokrasie bevorder nie, maar eerder ondermyn.

“Ons het ook aan die president gesê dat in sy haas om die wetgewing deur te voer, die parlement versuim het om te voldoen aan die grondwetlike plig om sinvolle en billike openbare insette te verkry.”

Die verkiesing vind oor sowat twee maande op 29 Mei plaas en die partye sê hulle is almal verbind daartoe om deel te neem sonder om die verkiesing-tydlyn te ontwrig of te vertraag.

“Dit is egter ons plig as huidig verteenwoordigde partye om die grondwetlike doelwit, naamlik om ʼn veelparty-demokrasie te bevorder, in die lig van hierdie noemenswaardige bedreiging vir een van die demokrasie se grootste sterkpunte, te betwis.”

Die partye vra Ramaphosa om die gedeeltes van die wetsontwerp wat ingrypende wysigings aan bestaande wetgewing bevat aan die nuwe parlement terug te verwys vir behoorlike oorweging wat ook aan die Grondwet voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Die ander partye bly NA IEF, CR en die ANC loop met oogklappe rond, kyk net voor hulle voete en kyk wat hulle alles vertrap. Als gaan oor selfveryking. ALL STOPS OUT TO WIN.

Amelia ·

Net bekommerd oor hul eie sakke as geld nog ordentlik aangewend word maar nee gaan seker gespaar word in rusbank

Tinus ·

Onthou hoe hierdie politici jou in jou eie huis toegesluit het tydens Covit. Nou soek hulle jou stem…

Jacques Dawie ·

En die hele land het gedink CR is die land se redding. Nou sien ons die communist streek, sny jou kompitisie by die enkels af. Maar die hele wereld sien sy onbekwaamheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.