10 soek ná rooftog by juwelierswinkel

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Minstens tien verdagtes word gesoek in verband met ʼn gewapende rooftog by ʼn juwelierswinkel in die suide van Johannesburg.

Kapt. Jeff Phora, woordvoerder van die provinsiale polisiekommissaris, het in ʼn verklaring gesê die rooftog het Maandagoggend in ʼn juwelierswinkel by die Glen-winkelsentrum in Oakdene plaasgevind.

“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat drie gewapende verdagtes kort nadat die winkel oopgemaak het, by die winkel ingestorm het. Ongeveer sewe verdagtes het toe by die aanvanklike drie verdagtes aangesluit wat in daardie stadium glo personeel in ʼn kamer toegesluit het.”

Volgens Phora het die verdagtes met juwele op die vlug geslaan. Die presiese waarde van dié juwele kon egter nog nie vasgestel word nie.

“Geen skote is in die winkel afgevuur nie. Die verdagtes het na bewering wel verskeie skote op veiligheidswagte afgevuur toe hulle van die toneel gevlug het.”

Niemand is in die voorval beseer nie.

Volgens Phora kon die polisie intussen vasstel dat die verdagtes in ʼn wit Ford Figo en Nissan Qashqai met onbekende registrasienommers op die vlug geslaan het.

Phora doen nou ʼn beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes by hul naaste polisiestasie of die Misdaad Stopnommer by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae