10 sterf in ongeluk op N1 in Limpopo

Die N1 naby Modimolle in Limpopo is reeds ure lank vir verkeer gesluit, na ‘n ongeluk wat tien lewens geëis het. (Foto: Engineer M. Ncube via Twitter)

Verkeersowerhede in Limpopo het bevestig 10 mense is dood in ʼn botsing tussen ʼn vragmotor en ʼn minibussie op die N1-hoofweg tussen Modimolle en die Kranskop-tolhek in Limpopo.

Die pad is reeds ure lank vir verkeer in albei rigtings gesluit en groot vertragings is aangemeld. Motoriste is aangeraai om die R101 of R33 as alternatiewe roete te gebruik. Die pad sou na verwagting laatoggend weer vir verkeer oopgestel word, wanneer forensiese ondersoekers hulle ondersoek afgehandel het.

Die ongeluk het vanoggend kort na 04:00 gebeur toe die minibussie en die vragmotor reg van voor met mekaar gebots het, het Matome Moremi-Taueatsoala, woordvoerder van die departement van verkeer in Limpopo, gesê.

Nege insittendes in die bussie is dood. Die vragmotor het aan die brand geslaan en die bestuurder daarvan het binne doodgebrand, het Moremi-Taueatsoala gesê.

Nog ʼn persoon is in ʼn bedenklike toestand na ʼn hospitaal op Modimolle geneem, terwyl ʼn ander geringe beserings opgedoen het.

Die bussie was van Zimbabwe na Gauteng onderweg.

Maroela Media het vroeër berig dat verkeersvolumes na verwagting vandag op verskeie hoofroetes, waaronder ook dié een tussen Gauteng en Limpopo, gaan begin toeneem wanneer motoriste na hulle Paasbestemmings reis. Die owerhede het ʼn beroep op mense gedoen om veilig te bestuur.

Meer as 500 mense is in 2018 oor die Paasnaweek in ongelukke dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Daar’s GEEN manier dat ek ‘n naweek uitstappie sal neem om SO in die verkeer te gaan sit nie. Nee wraggies. Dan bly ek eerder tuis en sny gras of doen iets konstruktiefs.

Schalla ·

Ek voel jammer vir al die onskuldiges wat in die ongeluk dood is. En ek voel jammer vir mense wat van taxis afhanklik is om te kom waar hulle moet kom. Maar die goed moet van ons paaie verwyder word – hulle is death traps!

Ek kan seker nie praat nie ek was nog nooit in een nie, maar ek is seker as al die passasiers in ‘n taxi die bestuurder teen die kop begin klap as hy soos ‘n paloeka ry of dreig om nie te betaal nie tensy hy ordentlik ry dan moet die ou mos luister? Of dalk gee hulle ook nie om nie. Net deel van die groter probleem in Suid-Afrika waar daar geen meer wet en orde is nie en almal aanvaar dit maar net.

Ek twyfel nie vir n oomblik dat die taxi 10/1 hierdie ongeluk veroorsaak het nie.

Nettie ·

@Schalla – as taxi-passassiers die taxi-bestuurder wys op foute – hoor ek – word daar dikwels net daar gestop en hulle uitgehelp. As hulle dan in die toekoms weer taxi soek, word hulle eenvoudig nie opgelaai nie.

waarheid ·

Stem saam Annoniem – dis baie baie veiliger en rustiger!!!

IK ·

Kop-teen-kop op ‘n snelweg!? Seker weer ‘n bandbars met ‘n vragmotorbestuurder wat nie opgelei is om korrek te reageer?

IK ·

‘n Ander berig wat meer op datum is sê dat die taxi oor die middelman tussen die snelweë die vragmotor trompop ‘gaan haal’ het.

EvD ·

……dit was nie die trok se skuld nie!!! Ek het 03:10am vanoggend agter daai taxi gery Die taxi het oor baan beweeg voor trok in!!!!

BLF ·

ANDILE .. dit is baie gevaarlik nou op die paaie . vir almal.

Thomas ·

Natuurlik! Maar as mense nie omgegee het nie, sou hul nie op die berig geantwoord het nie – al is die strekking ietwat ongeduldig.

Die mense vandag... ·

Pla my laat Lulu Leonard (of iemand anders) n video maak terwyl sy bestuur. As gevolg van fone op die pad gebruik dood hordes mense n dag ook…

Alida ·

Selfoon in die hand naby n stuurwiel is n moordwapen. Sit dit weg ASB.

Chris Ws ·

Die bestuurder van daai taxi/bussie is ‘n moordenaar.Indien hy leef behoord hy van moord aangekla en verhoor te word.Dis tyd dat die hof ‘n voorbeeld maak en so bestuurder minstens 25 jaar tronk toe stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.