10 toeriste ernstig beseer in Mpuma-ongeluk

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 17 mense, insluitend 10 toeriste van Amerika, Nederland, Kanada, Duitsland en Switserland is Donderdag in Mpumalanga beseer in ʼn ongeluk tussen twee minibusse, ʼn motor en ʼn vragmotor.

“Die ongeluk het op die R40 tussen Mbombela (Nelspruit) en Witrivier plaasgevind,” het brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, gesê. “Nege mense is ernstig beseer en agt het geringe beserings opgedoen. Almal is na verskeie hospitale in die gebied geneem.”

Volgens ʼn voorlopige ondersoek het ʼn minibustaxi ʼn minibus getref wat 10 toeriste van die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe vervoer het. Die taxi het plaaslike inwoners na Mbombela vervoer. Die taxi wou uit Plastonweg by die R40 aansluit en die minibus wat die toeriste vervoer het, het uitgeswaai, en ʼn vragmotor en Volkswagen Polo getref, verduidelik Mohlala.

Een van die toeriste is van Kanada, een van Amerika, twee van Duitsland, twee van Switserland en vier van Nederland. Drie van die toeriste het kritieke beserings opgedoen en is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, moes die provinsiale wetgewer in Mbombela verlaat om op die berigte van die ongeluk te reageer. Hy was besig om sy 2014/15 beleids- en begrotingstoespraak van R1 miljard aan te bied. “Ons wens die beseerde passasiers en bestuurders ʼn spoedige herstel toe,’ het Shongwe gesê. “Ons vra dat die ondersoekspan vinnig sal werk en enigiemand in hegtenis sal neem wat skuldig bevind word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Ai tog – natuurlik is ‘n taxi betrokke – kyk maar na die meeste “ongelukke” op die paaie.

Baie sterkte en spoedige herstel aan die beseerdes.

Jeanette Visser ·

In ander lander vrees hulle vliegtuie. In ons land vrees ons taxi’s wat seker vir meer mense
se dood verantwoordelik was as vliegtuie. Vanmôre 7 dood.
Baie sterkte aan die beseerdes en spoedige herstel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.